Drie sterf toe krans op strand meegee

Nooddienswerkers ruim op nadat die krans by die strand in Encinitas, in Kalifornië, meegegee het. (Foto: Denis Poroy/AP)

ʼn Gewilde branderrystrand was Saterdag nog gesluit nadat ʼn krans ineengestort het en tonne sandsteen op strandgangers geval het. Drie mense is dood.

ʼn Tien meter lange blad het Donderdag van die krans afgestort en op die sand by Grandview Beach, noord van San Diego in die VSA, te lande gekom. ʼn Helikopter van die nuuskanaal KNSD het beeldmateriaal gewys van strandstoele, handdoeke, branderplanke en strandspeelgoed wat besaai in die sand gelê het.

Besoekers en lewensredders het na die hoop rommel, wat glo duisende tonne weeg, gehaas om slagoffers so gou moontlik te help uitgrawe.

“Ek het mense gesien, lewensredders wat verbete probeer om mense uit die gemors te grawe,” het Jim Pepperdine, wat naby die strand woon, aan die San Diego Union-Tribune gesê.

Pepperdine het gesê hy het ook gesien hoe mense ʼn bewustelose vrou probeer bybring, voordat haar liggaam met iets bedek is.

ʼn Vrou het op die toneel gesterf en nog twee later in hospitale, het die stad in ʼn verklaring gesê. Nóg ʼn slagoffer is na ʼn hospitaal geneem en ʼn ander is op die strand behandel.

Nie een van die slagoffers was kinders nie.

Reddingshonde is gebruik om na nog moontlike slagoffers te soek, terwyl swaar masjinerie ingespan is om die rommel te skuif. Teen laat Vrydagaand is geen verdere liggame gevind nie.

Die strand word bereik deur ʼn stel houttrappe wat lei vanaf ʼn parkeerterrein bo die strand. Huise bo-op die krans is nie in gevaar nie, het die brandweerhoof, Mike Stein, gesê.

Die krans is egter steeds onstabiel en dit het die soektog bemoeilik.

In suidelike Kalifornië gee kranse jaarliks dikwels mee, maar vandeesweek se voorval is beskryf as een van die ernstigste nog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Dis absoluut tragies.
Baie sterkte aan almal daar, veral die oorledenes se naasbestaandes.

Magaretha van heerden ·

Baie jammer vir die mense wat hul naasbestaandes verloor het. Help my asb. Iets wat ek nie verstaan nie. As so iets gebeur is almal dankbaar dit was nie kinders nie. Dit hoef nie eens genoem teword nie. Wat maak dit anders? n Ou mens en volwassene is net so tragies as dit hulle is. n Mens bly n mens. Groot of klein. Net so met hulpbehoewendes in die UK is altyd die kinders wat voorgehou word. Almal is hulpbehoewend en moet gehelp word as ons kan. Die advertensies is regte tranetrekkers met betraande kinders. Hoekom word die ou mense wat ly nooit gewys nie.

KaterinaKat ·

Ek dink dis maar net n psigologiese ding in die mensdom. Mense voel as jy oud is het jy “al jou lewe gehad”. Kans gehad om die lewe te ervaar, baie dinge goed en sleg, interresante ervarings ens. So as n kleintjie sterf voel mens: Ai siestog hy/sy sal nooit die kans he om verlief te raak, weet hoe dit voel om n ouer te wees en hul eie baba vas te hou, te reis en te braai en nuwe kosse te probeer, ens. Want al is die lewe maar baiemaal swaar, is daar gewoonlik tog ervarings, groot en klein, wat geluk bring. Dinge wat mens kan geniet. Dis hoekom as n baba of n jong kind sterf is daar n gevoel dat hulle beroof is van baie dinge. En ook is die mensdom maar net oor die algemeen meer beskermend teenoor kinders as grootmense.

Marius ·

Ek onthou nog n foto wat geneem is v n swart kind wat deur n doringdraad kyk. Sy gesiggie was vuil met die nodige hoeveelheid klem wat gele is op op die trane wat spore in stof op sy wange gelaat het. Die werklikheid was die draad waardeur hy kyk was 5meter lank en hy was betaal vir die foto. In die agtergrond wat uitgedof was het hulle iemand in n motorband tereggestel. Ja kinders word gebruik om emosie te ontlok maar ook om soos in hier bo genoem sekere individue se politieke sienings op die leser af te dwing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.