Drie sterf toe missiel vragskip tref

Die Liberiese vragskip, M/V True Confidence, kort nadat dit Woensdag deur ‘n missiel getref is. Die missiel is deur Houthi-rebelle afgevuur. (Foto: Centcom / AFP)

Drie mense is dood en minstens vier ander beseer toe ʼn massavragskip Woensdag in die Golf van Aden deur ʼn missiel getref is, het die Amerikaanse weermag gesê.

Die missiel is deur Jemen se Houthi-rebelle afgevuur.

Die Iran-gesteunde Houthi-rebelle teiken al maande lank handelsvaartuie wat deur die belangrike Rooisee-handelsroete reis, maar Woensdag se sterftes blyk die eerstes weens só ʼn aanval te wees.

Die missiel het aansienlike skade aan die Liberiese vragskip, M/V True Confidence, aangerig.

“Die bemanning het die skip verlaat en koalisie-oorlogskepe het op die voorval gereageer. Die situasie word tans geëvalueer,” het die Amerikaanse weermag se bevelsentrum, Centcom, gesê.

Dit is die vyfde keer in twee dae dat die Houthi’s so ʼn missiel gelanseer het.

“Hierdie roekelose aanvalle deur die Houthi-rebelle het wêreldhandel ontwrig en nou ook die lewe van internasionale seevaarders kortgeknip.”

Die Filippynse regering se departement van trekarbeiders het in ʼn verklaring bevestig dat twee van die oorledenes en twee van die beseerdes Filippyne is.

Yahya Saree, die Houthi-rebelle se militêre woordvoerder, het op sosiale media gesê dat die True Confidence se bemanning herhaalde waarskuwingsboodskappe oor die beplande missielaanval verontagsaam het.

Amerikaanse militêre aanvalle

Centcom het etlike ure nadat die massavragskip getref is, gesê dat hy aanvalle teen “twee onbemande vliegtuie in ʼn Houthi-beheerde gebied van Jemen uitgevoer het, aangesien dit ʼn dreigende gevaar vir handelsvaartuie en Amerikaanse vlootskepe inhou”.

“Hierdie stappe word gedoen om vryheid van navigasie te beskerm en internasionale waters te beveilig.”

Centcom het nie verder oor die stappe uitgebrei nie.

Die VSA en Brittanje het sedert Januarie herhaalde aanvalle op Houthi-teikens in Jemen uitgevoer in reaksie op die voortslepende skeepsaanvalle in die Rooisee. Die rebelle gee egter nie bes nie.

Die Britse ambassade in Sanaa het die sterftes aan boord van die True Confidence as “die hartseer, maar onvermydelike gevolg van die Houthi’s se roekelose missielaanvalle op internasionale skeepsvaartuie”beskryf.

David Cameron, die Britse minister van buitelandse sake, het beloof dat die land sal voortgaan om die Houthi-rebelle se aanvalle te beveg.

Die aanvalle in die Rooisee het in November verlede jaar begin, kort nadat Hamas Israel op 7 Oktober aangeval het.

Die rebelle is deel van ʼn anti-Israel- en anti-Westerse alliansie. Hul aanvalle hou ʼn groot bedreiging vir internasionale handel in, aangesien die Rooisee altesame 12% van internasionale maritieme verkeer dra.

Groot vragskepe is reeds om Afrika na die Kaap herlei om aanvalle vry te spring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Otto ·

Die Iranese kaders het geen behae in vrede nie en ons leiers se maatjies wys net hulle ware kleure van met wie hulle bande gesmee het.

Jan Jacobs ·

Snaaks Iran en Irak het nooit gepla nie, tot die vsa daar gaan krap het nie.

Anel ·

Hoekom is die a en c nou stil? Hierdie is mos ook onskuldige mense wat vir geen rede aangeval en vermoor is!!!!

JohanR ·

Soe kan dit nie aangaan. Tyd vir die groot VSA kanonne om uit te kom. Miskien kan Naledi Pandor Weredlhof hof toe gaan met die terroriste?

Niklaas ·

Dis merkwaardig dat die RSA se leiers so besonder stil hieroor is. Dalks is hul maar net verstom en sprakeloos van skok.

Piet Snot ·

RSA se leiers is juis nie stil nie. Hulle ondersteun hierdie kaders, met SA se aanvalle in die Wêreldhof waaroor vroeër berig is.

Christine ·

Ek wonder dan nou net is ons regering dan ook terroriste as hulle dan so partydig is vir ander terroriste ek hoop nie so (Rip van Winkel)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.