Drie sterfgevalle bevestig in terreuraanval in Kenia

Veiligheidsmagte het die terroriste uit die gebou probeer verdryf. Foto: Facebook

Terroriste het Dinsdag toegeslaan op ʼn kantoor-en-hotelkompleks in die Keniaanse hoofstad, Nairobi, en mense vreesbevange laat vlug terwyl ontploffings en geweervuur deur die buurt weerklink het.

ʼn Ooggetuie het gesê hy kon minstens twee lyke sien tydens die aanval waarvoor al-Shabaab verantwoordelikheid aanvaar het. Volgens die Somaliese terreurorganisasie, wat bande het met al-Kaïda, is sy lede nog binne-in die kompleks aan die veg.

Die kompleks in Nairobi sluit in ʼn groot hotel, genaamd DusitD2, asook banke en kantore. Talle voertuie was ná die aanval aan die brand terwyl mense uit die kompleks gedra is, berig Deutsche Welle.

Talle voertuie buite die gebou het uitgebrand. Foto: Facebook

Charles Owino, polisiewoordvoerder, het gesê hulle het beamptes na die toneel gestuur, onder meer die teenterroriste-eenheid, maar aanvanklik was die polisie se inligting uiters beperk.

Spesiale magte is later op die toneel ontplooi om die aanvallers uit die kompleks te verdryf.

Ambulanse, veiligheidsmagte en brandbestryders het met loeiende sirenes na die kompleks gejaag. ʼn Groot groep vroue, van wie een nog haarkrullers ingehad het, is in der haas deur veiligheidsmagte uit die gebou begelei.

Die aanval toon sterk ooreenkomste met die aanval op die Westgate Mall in Nairobi in 2013, toe ekstremiste van al-Shabaab die luukse winkelsentrum beleër het, berig CNN.

Dinsdag is die derde herdenking van die al-Shabaab-aanval op die El Adde-weermagbasis toe 140 Keniaanse soldate om die lewe gebring is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.