Drie vermis ná vliegtuig teen berg bots

Die wrak van die Twin Otter 300-vliegtuig wat in Indonesië neergestort het. (Foto: Indonesia Search and Rescue (BASARNAS) / AFP) /

Drie bemanningslede aan boord van ’n Indonesiese vragvliegtuig word steeds vermis nadat die vliegtuig Woensdag teen ’n berg in dié land vasgevlieg het.

Lugverkeerbeheerpersoneel het kontak met die Rimbun Air-vlug verloor kort voordat dit op ʼn lughawe in die Papoea-gebied sou land.

“Die weer op die lughawe was nie gunstig nie. Daar is aangedui dat die vliegtuig sou land, maar die aanloopbaan was nie duidelik sigbaar nie,” het Ahmad Mustofa Kamal, woordvoerder van die polisie in Papoea, gesê.

Wrakstukke van die Twin Otter 300-vliegtuig is meer as drie uur later deur plaaslike inwoners naby ʼn dorpie in die omgewing gevind.

Wrakstukke wat verspreid oor die oerwoudvloer lê kan in foto’s gesien word wat ’n reddingspan Woensdag uitgereik het.

Indonesië se lugvaartsektor spook al geruime tyd met veiligheidsprobleme. Die land se lugrederye is selfs al in die Amerikaanse en Europese lugruim verbied.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig ’n Indonesiese vliegtuig het in Januarie met 62 passasiers en bemanning aan boord in die Java See neergestort.

ʼn Boeing 737-passasiersvliegtuig van die Indonesiese redery Lion Air met ongeveer 189 mense aan boord het in 2018 ook in die Java See neergestort, kort nadat dit in Djakarta opgestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Hoe kan hulle vermis wees of is daar iets groter agter die storie? Uitgespring met valskerms?