Driejarige ná aardbewing uit puin gered; dodetal styg

Die driejarige Elif nadat sy uit die puin gered is. Foto: TRAC/Handout/Reuters TV via REUTERS

ʼn Driejarige dogtertjie is Maandag in Izmir in Turkye uit die puin van ʼn ineengestorte gebou gered, amper drie dae ná die aardbewing in die Egeïese See.

Reddingswerkers het die meisie, Elif, uit die puin gehaal voor sy op ʼn draagbaar na ʼn ambulans geneem is en reddingswerkers voortgegaan het met hul soektog na oorlewendes in agt ander geboue.

Die dodetal het intussen tot 85 gestyg. Elif se twee susters en broer is Saterdag saam met hul ma ook lewend in die puin gevind, maar een van die kinders het later gesterf.

Turkye se ramp-en-noodowerheid (Afad) het gesê 83 mense is in Izmir dood en twee mense op die Griekse eiland Samos.

Minstens 994 mense is beseer en volgens Afad vermoed hulle dat tot 20 mense steeds in die puin vasgekeer is.

Reddingswerkers soek na oorlewendes in Izmir, Turkye. (Foto: REUTERS/Murad Sezer)

Vrydag se aardbewing het ʼn sterkte van 6,9 gehad en in die Egeïese See, noordoos van Samos, voorgekom. Daar was sedertdien byna 1 200 naskokke, het Afad gesê.

Meer as 3 500 tente en 13 000 beddens is as tydelike skuiling voorsien en byna 8 000 personeellede en 25 reddingshonde is volgens Afad by reddings- en noodlenigingswerk betrokke.

Dit is die dodelikste aardbewing die afgelope tien jaar in Turkye. In Januarie vanjaar is 41 mense in ʼn aardbewing in Elazig dood.

In 2011 is meer as 500 mense dood in ʼn aardbewing in Van en in 1999 is meer as 18 000 mense dood nadat twee kragtige aardbewings in die noordweste van Turkye voorgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Magda ·

Tragies – Baie sterkte aan die Families wat mense verloor het, asook die opbou van die stad – Sterkte Turkye.

Misky ·

Dank die Vader. Dis n wonderwerk en na drie dae lewend gevind. Kan net dink hoe dankbaar die ma moet wees en reeds ander kind aan die dood afgestaan.

Kokerboom ·

SY genade kan nie ophou om ‘n mens te verstom. Dankbaar vir die klein lewetjie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.