Drieling oorleef ingrypende skedeloperasie, maak geskiedenis

(Foto: Amy Howard/ CBS News)

ʼn Drieling van New York het geskiedenis gemaak toe hulle in Januarie vanjaar ʼn ingrypende skedeloperasie oorleef het. Die drie boeties is in Oktober verlede jaar gebore, maar enkele weke ná die geboorte met kraniostenose, ʼn seldsame toestand waar die skedel van ʼn baba te vinnig toegroei, gediagnoseer.

Die gevolg van hierdie toestand is dat die sagte gedeeltes op die baba se kop, naamlik fontanelle, toegroei en daar nie ruimte is vir die brein om verder te groei nie. “Dit kan nadelige gevolge vir die brein hê as daar heeltyd drukking in die kopbeen is,” sê dr. David Chesler, assistentprofessor in neurochirurgie by Stony Brooks Medicine.

(Foto: Amy Howard / CBS News)

Dit is die eerste keer dat ʼn drieling hierdie toestand het en veral buitengewoon omdat slegs twee boeties identies is. Chesler reken die kanse dat ʼn drieling deur hierdie toestand geraak word, is “een uit ʼn paar honderd triljoen”.

Die drie operasies het oor twee dae plaasgevind, waartydens ʼn gedeelte van Hunter, Jackson en Kaden se kopbene uitgesny is.

Amy Howard, ma van die drieling, sê sy was bekommerd dat haar kinders dalk breinskade kan opdoen. “Dit is werklik angswekkend om te dink jou agt of nege weke oue baba moet ʼn operasie ondergaan.”

Die operasie was egter suksesvol en hulle pa vertel al wat verklap dat hulle ʼn operasie gehad het, is die helm wat elkeen moet dra. Die helm moet vir die volgende paar maande gedra word. “Hulle gee gelukkig nie om nie. Die operasie het goed verloop; ek dink nie hulle het eens pyn ervaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Liza ·

Wonderlik, onse Pappa Vader se genade is groot…….pragtige 3 seuns…..

AL ·

Dit lyk na ñ vrolike drieling. Baie bly die operasie was ñ sukses.

Jane ·

My jinne dit is die mooiste vriendelikste ou goedjies. So bly hulle het betyds die probleem opgespoor en kon hulle almal red voordat daar enige skade is. GENIET Julle kinders en geniet die lewe .. hulle is tog te pragtig vir woorde!!

mari ·

Ons dogtertjie het presies dieselfde operasie gehad 6Mei 2016 toe was die pop net 2 en half maande oud..die neuro chirug was uitstekend Dr J Mennen by unitas in Pta.ons kan net Jesus dank dat ons pop Lizay Ann se operasie suksesvol was.

Maggie ·

Quintin smit van pretoria was die eerste baba in 1979 wat die operasie op 4 maande gehad het. Hy is vandag 38 jaar oud. Daardie jare was daar nie die tipe helms nie. Net verbande. Hy het omtrent soos bokser gelyk…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.