‘Dronkbestuur’ van olifante nou in Sri Lanka verbied

Olifantkalfie in Udawalawe- nasionale park (Foto: Steve Garvie van Dunfermline, Fife, Scotland via Wikimedia Commons)

Sri Lanka sal biometriese identiteitskaarte uitreik aan olifante in aanhouding en plaas ʼn verbod op die verbruik van alkohol deur hul ryers kragtens ʼn nuwe Dierebeskermingswet.

Talle welgestelde Sri Lankane, insluitend Boeddhis-monnike, hou olifante as troeteldiere om met hul welvaart te spog. Daar is egter grootskaalse klagtes oor dieremishandeling.

Die nuwe maatreëls het ten doel om die diere se welsyn te beskerm en sluit streng regulasies in oor die hantering van olifante. ʼn Daaglikse twee en ʼn half ure lange bad is ook verpligtend vir elke olifant.

Amptelike rekords wys dat daar sowat 200 mak olifante in die Suid-Asiese land is met bevolking in die natuur wat op sowat 7 500 staan.

Die nuwe wet sal van eienaars vereis om seker te maak dat die olifante in hul sorg ʼn nuwe foto-identiteitskaart het met ʼn DNS-stempel.

Baba-olifante mag ook nie meer vir werk gebruik word nie – selfs nie eens vir kulturele feeste nie – en mag nie van hul ma’s geskei word nie.

Olifante wat gebruik word om stompe rond te dra, mag nie vir meer as vier ure op ʼn dag werk nie en mag glad nie in die aand werk nie.

Daar is ook nuwe beperkings op die toerismebedryf: ʼn maksimum van vier mense mag op een slag op ʼn olifant ry en hulle moet op ʼn saal sit wat snoesig uitgevoer is.

Olifante mag glad nie in rolprente gebruik word nie buiten vir regeringsproduksies en dan slegs kragtens streng veeartseny toesig.

Hul ryers mag ook glad nie onder die invloed van alkohol of enige ander dwelmmiddel wees nie, het Wimalaweera Dissanayaka, minister van dierebeskerming, gesê.

Die olifante moet ook elke ses maande gestuur word om medies ondersoek te word.

Diegene wat die nuwe wetgewing oortree se olifante sal van hul weggeneem word en in die staat se sorg geplaas word. Hulle kan ook tot drie jaar tronkstraf gevonnis word.

Doodstraf kan opgelê word in Sri Lanka as ʼn persoon skuldig bevind word dat hy wilde olifante gevang het, maar vervolging is seldsaam.

Diereregte-aktiviste en olifantkenners voer aan dat meer as 40 olifantkalfies die afgelope 15 jaar uit nasionale parke gesteel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alta Alleman ·

Hoop hulle pas dieselfde wette toe op Indië se olifante se base.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.