Drukkoker vol konfetti ontwrig Boston bom-herdenking

Die rugsak wat in Boylston-straat gevind is. Bron: WBZ-TV

Die rugsak wat in Boylston-straat gevind is. Bron: WBZ-TV

Die straat waar ʼn bomontploffing ʼn jaar gelede chaos veroorsaak het by die eindstreep van die Boston-marathon, moes weens ʼn moontlike ploftoestel op die toneel ontruim word tydens die eerste herdenking van dié ontploffing.

CBS Boston berig Boylston-straat, waar die vorige bomontploffing plaasgevind het, moes Dinsdagaand ontruim word toe ʼn kaalvoet-man met ʼn lang, swart sluier en ʼn sak in sy hande deur polisie op die toneel voorgekeer is. Hy het vir die polisie gesê daar is ʼn drukkoker in die sak, waarop hulle die bomeenheid ontbied het. Dié sak en nog ʼn sak wat op die toneel gevind is, is onskadelik gestel. In die een sak was ʼn drukkoker vol konfetti.

Die man, wat as die 25-jarige Kayvon Edson identifiseer is, het “Boston Strong” geskree toe hy deur polisie in hegtenis geneem is.

Die voorval het plaasgevind enkele minute nadat die Norden-broers, wat verlede jaar se ontploffing oorleef het, ʼn aflos-stap van 42km voltooi het.

Drie mense is dood en meer as 260 mense beseer toe twee bomme verlede jaar in Boylston-straat by die eindstreep van die Boston-marathon ontplof het.

Adjunkpresident Joe Biden het gister om 14:49, die tyd van die ontploffing verlede jaar, saam met oorlewendes en familielede van slagoffers van die bomontploffing ʼn minuut van stilte by die toneel gehou.

Edson is aangekla van openbare wangedrag, rusverstoring en die besit van ʼn nagemaakte toestel.

Die 118de Boston-marathon word op Maandag, 21 April gehou.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.