Dubai-polisie lê beslag op R2 miljard se kokaïen

Dubai (Foto: Mahesh Salunke/Pixabay)

Die owerhede in die Verenigde Arabiese Emirate het beslag gelê op ʼn halfton kokaïen ter waarde van meer as AED 500 miljoen (meer as R2 miljard), het die polisie in Dubai Sondag gesê. Dit is een van die grootste dwelmklopjagte in dié land.

Beamptes het “ʼn smokkelpoging van 500 kg suiwer kokaïen gefnuik”, lui ʼn verklaring deur die polisie. “Die dwelmmiddels, met ʼn straatwaarde van meer as 500 miljoen Emiratiese dirham, was goed versteek in die struktuur van ʼn vraghouer.”

Die VAE, wat uit sewe emirate insluitend Dubai bestaan, het ʼn zero-toleransie beleid wat dwelmbesit betref.

Die polisie het gesê hulle kon die smokkelary fnuik nadat hulle ʼn wenk oor die vragskip ontvang het. In die operasie genaamd “Skerpioen” is ʼn Midde-Oosterse verdagte in hegtenis geneem. Volgens die polisie is hy ʼn tussenganger vir ʼn internasionale dwelmsindikaat.

“Sodra die vrag opdaag, moes die verdagte die onwettige dwelmmiddels na ʼn ander emiraat vervoer en dit in ʼn pakhuis stoor met die doel om dit te verkoop,” het Eid Mohammed Thani Hareb, direkteur van die antinarkotika-departement bygevoeg.

Veiligheidsbeamptes het ʼn klopjag uitgevoer op die pakhuis en die man “op heterdaad betrap”.

Dwelmsmokkelaars kan die doodstraf in die VAE opgelê word, maar teregstellings is seldsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Helanza ·

Hulle kan hom maar hang. Hoeveel mense sterf daagliks van dwelms

annie ·

Groot show maar die etiese standaarde is maar so-so en misdaad floreer op groot skaal.

MK123 ·

Jy is seker bietjie deurmekaar… misdaad in die VAE is min, want die wet word so streng toegepas. Mense is heelwat meer versigtig wanneer die doodstraf op die spel is en die polisie hul werk ordentlik doen.

annie ·

Wat sou jy die groot ‘beleggings’ van mense soos die Ghupta’s en Zuma noem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.