Dubbelspaar uit Franse Ope ná bal joggie tref

Argieffoto van Miyu Kato en Aldila Sutjiadi. (Foto: ROB PRANGE / Spain DPPI / DPPI via AFP)

Die duppelspaar Miyu Kato en Aldila Sutjiadi is Sondag in die Franse Ope gediskwalifiseer nadat ʼn jong baljoggie per ongeluk tydens die spel raakgeslaan is.

Kato van Japan en haar Indonesiese dubbelsmaat het met 3-1 in die tweede stel teen hul teenstanders Marie Bouzkova van die Tsjeggiese Republiek en Sara Sorribes Tormo van Spanje voorgeloop nadat hulle aanvanklik die openingstel verloor het.

Die dubbelswedstryd het egter kort daarna in omstredenheid geëindig toe Kato die bal in die rigting van die baljoggie aan die oorkant van die baan slaan in ʼn oënskynlike poging om die vloei van die wedstryd aan te help.

Die bal het die jong meisie op haar kop getref.

Dit lyk nie of Kato die balmeisie doelbewus raakgesaan het nie en die Japanse tennisspeler het dadelik om verskoning gevra. Die jong meisie was egter in trane en het gebewe.

Kato het aanvanklik net ʼn waarskuwing ontvang, maar is later saam met haar dubbelsmaat in die derde ronde- wedstryd gediskwalifiseer nadat Bouzkova en Sorribes Tormo die skeidsregter genader het.

“Ek het dit nie gesien nie. Ons span het dit gesien,” het Bouzkova gesê. “Maar ek het gesien die meisie het 15 minute daarna nog gehuil.

“Die waarskuwing is eers uitgereik omdat die skeidsregter nie gesien het dat die meisie huil nie en dat sy in soveel pyn is nie.

“Ons het vir die toesighouer gesê hy moet weer daarna kyk, want ons het gesien dat die bal direk na haar gegaan het en dat die meisie huil. Dit was nie asof die bal gehop het of ʼn  stadiger bal was nie.”

“Dit was in sy [die skeidsregter se] hande. Dit was ongelukkig,” het Bouzkova bygevoeg.

Mirra Andreeva van Rusland het die naweek gesê sy was gelukkig om nié gediskwalifiseer te word nie nadat sy uit moedeloosheid die bal in haar wedstryd teen Coco Gauff in die skare in geslaan het.

Gauff het eindelik ná drie stelle gewen en Andreeva het ʼn waarskuwing ontvang.

“Dit was baie sleg wat ek gedoen het,” het Andreeva later erken.

Novak Djokovic is in 2020 in die Amerikaanse Ope gediskwalifiseer nadat hy uit frustrasie die bal geslaan en die bal ʼn lynregter teen die keel getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank ·

Ag maar my magtag, die joggie moet mos die bal dophou!!! Dis mos al ‘n groot kind want tien teen een ook kan tennis speel. Daar was mos nie slegte intensies nie, sag geslaan.

Melissa ·

Nee regtig. So iets doen jy mos nou nie aspris nie. Dit was bloot n ongeluk.

Moedeloos ·

As jy wil optree as baljoggie moet jy wakker wees en ten alle tye bewus wees dat n bal jou kan tref.

Lurock ·

Werklik, geen sportman/ vrou sal moedswillig ‘n baljoggie raakslaan nie.

Op grond van watter reel in die reelboek is hierdie straf uitgedeel

Daar is al baie lank ‘n YouTube video van ander spelers wat ook ‘n baljoggie, n lynregter en selfs die skeidsregter raakslaan. En daarvan het niks gekom nie.

Sal bitter graag die rede wou weet

donsie ·

dit was onnodig, sy het nie eers die bal hard geslaap nie, dis omdat sy op haar job gestaan en slaap het dat sy getref is. sy moet dalk baljoggie vir sokker wedstryd raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.