Duif haal R6 miljoen op rekordveiling

Foto ter illustrasie: Wikipedia

ʼn Skatryk Chinees het die rekordbedrag van net oor die R6 miljoen vir ʼn posduif betaal.

New Bliksem het die rekordprys op ʼn aanlyn veiling gehaal en sal met spesiale vervoer uit België na China gebring word, waar sy nuwe eienaar hom vir teeldoeleindes wil gebruik, berig Nederland se grootste oggendblad, De Telegraaf.

Die duif se vorige eienaar, die Belg Gaby Vabdenabeele, moes noodgedwonge ophou met duiwesport weens ’n allergiese reaksie. Hy soek nou huise vir sy 800 voëls.

Hy het aan die Belgiese koerant Het Nieuwsblad gesê hy neem met ʼn pyn in sy hart van sy duiwe afskeid, “maar die dokter het gesê ek het eintlik geen keuse meer nie”. Hy het die sport in 1976 begin beoefen en wen sedert 1981 gereeld pryse.

Die aanlyn veiling het begin met ʼn vraprys van R3 miljoen, maar het gou-gou geklim. New Bliksem is Saterdag teen R6 miljoen van die hand gesit.

“Dis ʼn wêreldrekord vir ʼn aanlyn veiling,” sê Nikolaas Gyselbrecht van die duiweveilingswebtuiste Pipa. “Eenkeer is ʼn duif teen R6,5 miljoen verkoop, maar dit was ʼn private transaksie, nie ʼn openbare veiling nie.”

Xing Wei, die nuwe eienaar, is mal oor duiwe. Na raming is sy huidige versameling dig by die R50 miljoen werd.

“Uiteraard is sy duiwe verseker teen sterfte weens brand en teen diefstal, maar nie teen siekte nie,” sê Gyselbrecht. “Dié risiko moet die koper maar aanvaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Goed om te sien hoe lief mense vir diere is, die DBV sal hiervan Hou ! ?? Ek wens net Pappa’s en Mamma’s wil net so LIEF wees vir hulle KINDERS !

Peet J ·

Ek was ook ‘n duiweboer maar die foto van hierdie duif “bluebar” laat veel tewense oor kyk na sy neus vluels “common” sy pote vou inmekaar, klein koppie, die vlerkspan lyk nie te sleg nie .Hierdie foto verteenwoordig defnitief nie die R6 miljoen duif nie .

Liezl ·

Dis definitief net n foto ter illustrasie, sien onderaan foto

Cherokee ·

Toe..toe..toe.. Peet! Moet nie dat die mense vir jou lag nie. Dit is die foto van ‘n common daai.

J. van Rensburg ·

Vou sy pote van nature inmekaar, of – soos dit vir my lyk – is die draad waarop hy/sy sit se “tekstuur” té “grof” en veroorsaak dat hy/sy nie behoorlik daarop kan sit nie???

Tienie ·

Glo my dit is een van die lekkerste sport wat daar is . As jy dit beoefen moet jy baie toegewyd en oplettend wees. Die plesier /bevrediging wat jy kry uit hierdie diere maak die R6 miljoen kleingeld en is elke rand werd ?

jakes van Rensburg ·

hulle doen die sport n oneer aan om n stasie duif as illustrasie
te gebruik.
hulle kon beter doen, wedvlugduiwe is pragtige voêls

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.