‘Duikboot-moordenaar’ verloor hofsaak oor nuwe verhoudinge

Veroordeelde moordenaar Peter Madsen buite ʼn hof in Glostrup (21 Oktober 2020) (Foto: Liselotte Sabroe/Scanpix 2020/Ritzau Scanpix via AFP)

Denemarke se mees berugte gevangene, wat lewenslange tronkstraf uitdien in verband met die moord op ʼn joernalis aan boord sy tuisgemaakte duikboot, het Donderdag ‘n saak teen die Deense staat verloor oor wetgewing wat hom verbied om nuwe verhoudings aan te knoop.

Peter Madsen (52) het beweer dat ʼn wet wat in 2022 deurgevoer is, sy reg op ʼn privaat lewe volgens die Europese Konvensie vir Menseregte geskend het.

Dié wet beperk gevangenes wat lewenslange vonnisse uitdien tot besoeke, briewe, en telefoonkontak slegs met mense wat reeds naby aan hulle was voor hulle veroordeling, gedurende die eerste 10 jaar van hul vonnis.

Die duikboot-entoesias en selfopgeleide ingenieur is in April 2018 skuldig bevind op aanklag van moord met voorbedagte rade en seksuele aanranding van die 30-jarige Kim Wall. Die bekroonde Sweedse joernalis het ʼn onderhoud met hom gevoer aan boord sy duikboot in Augustus 2017.

“Die hof het geen grond vir (Madsen se eis) gevind nie, daarom is Storstrøm-gevangenis vrygespreek van ‘n rits beskuldigings deur die gevangene,” het die distrikshof van Nykøbing Falster in ‘n verklaring geskryf.

Die hof het egter wel toestemming gegee vir Madsen om besoeke, briewe, en oproepe van ‘n vroulike tronkwag te ontvang wat hy ontmoet het ná die misdaad, maar voor sy veroordeling, wat die tronk tot dusver verbied het.

“Dit is 50-50, maar hy sal minder geïsoleerd wees as voorheen,” het Madsen se prokureur, Tobias Stadardfeld Jensen, aan AFP gesê, terwyl hy bygevoeg het dat Madsen nog nie besluit het of hy teen die uitspraak gaan appelleer nie.

Tydens sy verhoor in 2018 het Madsen beken dat hy Wall se liggaam opgekap het en haar kop, arms, en bene in plastieksakke gedruk het, en metaalpype bygevoeg het vir gewig voordat hy die sakke in die see gegooi het.

Sy hoëprofiel-hofsaak het sy belangstelling in gewelddadige seks- en aanstootlike flieks onthul waarin vroue onthoof, ontvel, gemartel, en deurboor word.

Die land is ʼn paar jaar later ontstel toe ʼn jong vrou bekendgemaak het dat sy verlief geraak het op Madsen nadat sy met hom begin korrespondeer het. Hy was in hierdie stadium verhoorafwagtend en sy was minderjarig.

Dit het die regering genoop om die enigste wetgewing van sy soort in Europa deur te voer.

Kriminologie-professor Linda Kjaer Minke van die Universiteit van Suid-Denemarke het voor die uitspraak gesê dat sy glo Madsen se saak het soliede regsgronde.

“Die wet kan ‘n skending van artikel agt van die Europese Menseregtekonvensie wees. Hierdie artikel bepaal dat elkeen ‘n reg het op respek vir sy privaat- en gesinslewe en sy korrespondensie,” het sy aan AFP gesê. “Die wet behoort nie die reg van gevangenes in die algemeen te beperk om ‘n baie (klein) aantal vroue te beskerm wat dalk hulp en ondersteuning nodig het nie.”

Sy het gesê dit was ‘n “skande” dat Madsen die eerste veroordeelde was om die wet in die hof te bevraagteken.

“In die openbare debat oorskadu sy misdaad die feit van hoe indringend hierdie wetgewing is en dat die Deense staat miskien te ver gegaan het.”

Madsen is al twee keer geskei, en het vir die twee keer in 2019 in die tronk getrou. Hierdie huwelik het in 2022 geëindig.

Stadardfeld Jensen het gesê sy kliënt het, sedert die wet van krag geword het, byna geen kontak met die buitewêreld gehad nie.

Madsen is in Junie skuldig bevind dat hy vier briewe na twee vroue uitgesmokkel het.

Stadardfeld Jensen het gesê dit was ‘n “toeval” dat dié wat kontak met hom wou hê, vroue was, en dat die meeste van die briewe oor vuurpyle gehandel het, Madsen se ware passie.

Vier vroue wat gesprekke met Madsen aangeknoop het nadat hy sy vonnis begin uitdien het, het die hofverrigtinge in November bygewoon.

Slegs een van hulle het romantiese kontak met Madsen gehad, het sy prokureur gesê.

“Daar is ‘n jong vrou wat gevoelens vir hom ontwikkel het,” het Stadardfeld Jensen gesê.

Die Deense regering het volgehou dat die wet nodig is om mense teen gevaarlike misdadigers te beskerm.

“Dit is nie ‘n mensereg om nuwe vriende te maak of afsprake te hê as jy in die tronk is vir gewelddadige en dierlike misdade nie,” het Peter Hummelgaard, minister van justisie, aan AFP gesê. “Die doel van die wet is onder andere om ‘n einde te maak aan ‘n herhaling van vorige voorvalle waar gevangenes jong mense kontak en hulle probeer verlei om hulle in hul web in te lok ten einde hul simpatie of aandag te wen.”

Madsen se prokureur het aangedring dat dit nie die geval vir sy kliënt is nie.

“Hy is ‘n ou wat weet dat wat hy gedoen het, baie wreed is, en hy het geen simpatie vir homself nie,” het Stadardfeld Jensen gesê.

  • ‘n Dokumentêre reeks, Into the Deep, oor Peter Madsen is op Netflix te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.