Duiker laat breinaalde klik langs Olimpiese swembad

‘n Foto van Tom Daley wat langs die Olimpiese swembad brei het soos ‘n veldbrand op die internet versprei. (Foto: Twitter/Team GB)

Tom Daley, die Britse duiker, het sosiale media aan die gons met foto’s waar hy Sondag langs die Olimpiese swembad in Tokio, Japan, sit en brei tydens die eindronde van die vroue 3 m-duikplankkompetisie.

Foto’s van die 27-jarige duiker het versprei nadat Olimpiese televisiekameras hom tussen die ander toeskouers langs die swembad by die Tokio-watersportsentrum in sy swembroek en masker met sy breinaalde gewaar het.

Die oomblik is vasgevang net voor die derde ronde, kort nadat China se Shi Tingmao haar tweede duik voltooi het.

“Daar is Tom Daley – en hy het sy breinaalde saamgebring,” het Katherine Downes, BBC-kommentator, Sondag tydens die regstreekse uitsending gesê.

“Wat dink julle maak hy daar? Ek wonder vir wie maak hy daardie pers konkoksie?”

Die breiwerk blyk ʼn soort hoed met ʼn roomkleurige rand – moontlik vir sy jong seun, Robbie – te wees, hoewel Daley nog nie kommentaar gelewer het oor sy jongste skepping nie.

Tom Daley spog met die sakkie wat hy gebrei het vir sy goue medalje. (Foto: Instagram/@madewithlovebytomdaley)

Die Britse duiker, wat verlede Maandag sy eerste Olimpiese goue medalje gewen het saam met Matty Lee in die gesinchroniseerde 10m-platformitem, het sy breiwerk sy “geheime wapen” genoem.

Hy het vroeër vandeesweek gespog met ʼn klein, gebreide sakkie wat hy gebrei het sodat sy goue medalje “nie krap nie”. Die sakkie het die Union Jack aan die een kant en die Japanse vlag aan die ander kant.

“Die een ding wat my verstand gesond hou deur die hele proses is my liefde vir brei en hekel en alles wat stikwerk behels,” het hy op sy Instagram-profiel, @madewithlovebytomdaley, gesê.

Die profiel, wat toegewy is aan sy breiwerk, het sowat 100 000 volgelinge.

Sondag se brei-avonture het vinnig sy weg na Twitter gebaan en het selfs op die amptelike profiele van die Olimpiese Spele en Britse span verskyn.

Daley se duikloopbaan het in 2008 op 14-jarige ouderdom op die Olimpiese Spele in Beijing begin. Hy is die eerste Britse duiker met drie Olimpiese medaljes nadat hy voorheen twee bronsmedaljes ingeoes het.

As deel van die Covid-19-regulasies moet Olimpiese atlete die Japanse hoofstad binne 48 uur ná hulle laaste item verlaat. Daley het egter nog ʼn duikitem wat voorlê, wat verduidelik waarom hy in die swemsentrum rondhang.

Die individuele 10m-platformitem is laaste op die duikprogram in Tokio, met uitdunne wat op Vrydag 6 Augustus plaasvind en die eindronde op Saterdag 7 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Toy ·

Wow, ek kan nie eers so brei nie. Dit laat hom seker ontspan.

Boksombende ·

Briljant! Nisk fout met brei nie! Wens ek kon dit doen!

Ny ·

Brei en hekel is regtig kalmerend, so ek verstaan presies hoekom hy dit geniet. Niks fout daarmee nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.