Duiker sterf tydens soektog na vliegtuigwrak

Owerhede ondersoek dele van die Lion Air-vliegtuig wat in die see gevind is (31 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Tatan Syuflana

ʼn Indonesiese duiker is dood tydens ʼn soektog na slagoffers en wrakstukke van ʼn vliegtuig van Lion Air wat met 189 persone aan boord in die see neergestort het.

Syahrul Anto is Vrydag bewusteloos in die see gevind en is in die hospitaal dood verklaar, het Bayu Wardoyo, hoof van die reddingsduikerspan in Indonesië, gesê.

ʼn Beampte van die vloot het gesê Syahrul is vermoedelik dood weens onbeheerste dekompressie.

Maroela Media het vroeër berig die Lion Air Boeing 737 Max 8 het Maandag in die see neergestort, ongeveer 13 minute ná dit by Jakarta se Soekarno-Hatta- internasionale lughawe opgestyg het. Al 181 passasiers en agt bemanningslede aan boord is oorlede.

Soekspanne het Vrydag op die vliegtuig se landingstoerusting afgekom ná die “swart boks” ʼn dag tevore opgespoor is. Die kajuit-stemopnemer word steeds vermis. Dié instrument neem alle gesprekke in die kajuit op terwyl die “swart boks” vlugdata soos lugspoed, lugdruk en vertikale versnelling opneem. Data van dié opnemers kan lig werp op die oorsaak van die ongeluk.

Lion Air het gerugte bevestig dat die vliegtuig “onbetroubare” lesings van hoogte en lugspoed op sy vorige vlug, die aand voor die ongeluk, aangetoon het. Die maatskappy hou vol die kwessies is opgelos voor Maandag se vlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.