Duikers al nader aan vermiste sokkerspan

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Terwyl die soektog na ʼn jong sokkerspan van Chiang Rai in Thailand Maandag vir die negende dag voortgesit is, glo reddingswerkers hulle kom al nader aan die plek waar die vermiste kinders in ʼn grot vasgekeer is.

CNN berig reddingswerkers van China en Australië het intussen by die soekspan aangesluit en daar word onverpoosd gewerk om die vermiste kinders en hul afrigter op te spoor. Volgens die nuusagentskap beweeg duikers al nader aan ʼn hoër droë gebied in die Tham Luang Nang Non-grot waar hulle glo die vermistes moontlik skuiling gesoek het. Hierdie gebied is etlike kilometer van die ingang na die grot.

Volgens CBS News het die reddingspan Sondagaand bevestig dat hulle ʼn draai in ʼn nou paadjie van ongeveer 800 m in die grot bereik het waar die paadjie in twee verdeel. Dié plek is ongeveer 2 km van die droë ruimte binne die grot.

Die duikers kon voorheen nie verder as dié punt beweeg nie, omdat hulle kort-kort uit die grot moes onttrek weens stygende watervlakke. Dié plek is die verste wat hulle nog in die grot kon inbeweeg.

Die duikers maak tans gebruik van ekstra suurstofvoorraad sodat hulle langer in die grot kan bly. Volgens die owerhede is sommige plekke in die grot uiters nou en is dit moeilik vir die duikers om met al hul toerusting daardeur te beweeg, wat die reddingspoging verder vertraag. Intussen werk spanne ook om water uit die grot te pomp en om grondwater te herlei.

Maroela Media het vroeër berig die Tham Luang Nang Non-grot is geleë in die Chiang Rai-provinsie. Daar word vermoed dat 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige sokkerafrigter in die grot vasgekeer is nadat hulle die grot op 23 Junie binnegegaan en daarna deur vloedwater vasgekeer is.

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel. ʼn Kennisgewing by die ingang na die grot, wat ʼn gewilde toeriste-aantreklikheid is, waarsku dat dit gevaarlik is om die grot binne te gaan gedurende die reënseisoen.

Die sokkerspan en hul afrigter, wat van die stad Chiang Rai in die Chiang Rai-provinsie afkomstig is, het klaarblyklik dié waarskuwing geïgnoreer en in die grot ingekruip. ʼn Parkbeampte het onraad vermoed toe hy ʼn klomp fietse opgemerk het wat by die ingang na die grot staan.

Daar was tot op hede nog geen kontak met die vermiste span nie en dus ook nie bevestiging of hulle nog lewe nie. Die groep het geen kos by hulle nie, maar het waarskynlik toegang tot vars water wat deur die ingang na die grot en tussen die klippe deur spoel.

The Guardian berig Anmar Mirza, die koördineerder van die Amerikaanse Nasionale Grotreddingskommissie, het gesê selfs sonder kos kan die jong, atletiese seuns tot ses weke oorleef indien hulle toegang tot water het. “Die grootste uitdaging wat hulle tans in die gesig staar, indien hulle nog lewe, is sielkundig omdat hulle nie weet wanneer hulle gered sal word nie,” het Mirza gesê.

Owerhede meen die seuns ken die grot goed en dat hulle al voorheen ʼn paar keer in die grot was wat die hoop laat ontstaan dat hulle bewus is van die droë deel diep binne die grot en dus daar gaan skuiling soek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel ·

Ek sal nogal daarvan hou om deel te wees van so ‘n soekgeselskap. Net soos wat ek destyds ook glad nie sou omgee om Sylvester die leeu te help opspoor nie. Bloot net vir die avontuur daarvan.

MJ ·

Liewe aarde! Ek sal graag hierdie storie verder wil volg… hoop vir ‘n goeie einde..

White Rhino ·

Ek hoop ook hulle kom lewend daar uit en lees gereeld BBC en CNN om op te volg.

christa ·

nou nie snaaks nie, maar wat gaan soek ‘n grootmense met ander mense se kinders in grotte.?

Abe ·

Christa,
‘Stem saam. ‘n Jong man wat veronderstel is om seuns af te rig om sokker te speel het geen besigheid om met seuns op n fietstoer te gaan en sinneloos in gevaarlike plekke rond te kruip nie. Onverstaanbaar en onverskoonbaar!

Mynopmeter ·

Christa en Abe, dis mense hierdie wat bereid is om saam ‘n avontuur aan te pak. Wanneer jou kind dus saam met ‘n groep gaan moet hulle ook wegbly uit die see, swembaddens, perdry ens.? Wat verkeerd is is om die kennisgewing by die ingang van die grot te verontagsaam.
Skynbaar bestaan daar nie akkurate kartering van die grotte om van bogronds ‘n gat te boor. Dalk is die grondformasie ook baie onstabiel en kan die dak vd grot ineenstort.

Emil van Eeden ·

Moet traumaties wees vir jong seuns en families en vertrou vir positiewe einde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.