Duisende betoog om laaste lappie oeroue woud te red

Sowat 5 000 betogers het Saterdag by die Hambachwoud saamgekom om dit te probeer red. Dié lappie bome is die laaste tiende van ‘n 12 000 jaar oue woud wat as ekologies belangrik beskou word. Foto: DW via Twitter

Duisende betogers het in Duitsland na die laaste 10% van ʼn oeroue woud opgeruk om te keer dat dit ook gesloop word deur die mynmaatskappy wat die grond besit.

Die oorblywende 200 ha van die Hambachwoud – so groot soos die staatjie Monaco – loop gevaar om ook uitgehaal te word sodat die energiereus RWE met sy bruinkool-mynboubedrywighede kan voortgaan, berig Deutsche Welle.

RWE, Duitsland se nasionale kragvoorsiener, het die grond waarop die Hambachwoud geleë is in 1978 gekoop. Jaar ná jaar kap die maatskappy die woud stuk-stuk uit om voortdurend die oop bruinkoolmyn te vergroot, waaruit 49,6 miljoen ton bruinkool jaarliks gemyn word, berig National Geographic.

Sedert 2012 woon tientalle aktiviste in sowat 80 boomhuise 25 m bo die grond in die laaste stukkie van die woud om dit te probeer red. In September vanjaar het honderde polisiebeamptes op die aktiviste toegeslaan om hulle te verwyder nadat die plaaslike owerheid aangevoer het die boomhuisbewoners skep ʼn brandgevaar, het The Guardian berig.

Al bly so min daarvan oor, bevat die woud ʼn ryke biodiversiteit en is dit die tuiste van 142 spesies wat as bewarenswaardig beskou word. Dit word beskryf as die laaste oorblyfsel van ʼn woudekostelsel wat dié deel van die Rynvlakte tussen Aachen en Keulen reeds sedert die einde van die laaste Ystydperk bedek het.

Die polisie het eindelik 86 boomhuise verwyder in ʼn optrede wat miljoene euro’s gekos het, maar het aan die woud onttrek nadat ʼn hof in die stad Münster enige verdere boomslopings vir eers verbied het. Aktiviste het intussen van die boomhuise herbou en nuwe versperrings opgerig om die woud te beskerm.

Donderdag het sowat 1 000 mense met ʼn spesiale trein na die 12 000 jaar oue woud gekom om daar te betoog, maar Saterdag het vyf keer méér na die woud gekom om ʼn beroep op die owerheid te doen om dit te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tamboti ·

Kos dit dan ń aap om te sien hoe onnosel die ontwikkelde mens dan is.
Hulle almal weet dat die aarde en ekologie bewaar moet word, maar dan vind hul ingewikkelde en onnosel redenasies om juis die teendeel te doen – en later die groot prys daarvoor te betaal?

willem heitlager ·

we have to give up things to save nature and a german energycompany will destrouy it please explain it to meis it still deutscland uber alles?

Outoppie ·

Net so erg soos die klomp wat langs Hluhluwe-Reservaat dinamiet wil skiet in ‘n oop steenkoolmyn en stof- en geraasbesoedeling veroorsaak. Om niks te sê van hoe die gereelde gedreun die diere (en toeriste) gaan versteur nie. Maar geldgieriges in ons regering het mos nie ‘n problem daarmee nie, net solank hulle hul “baksheesh” ontvang . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.