Duisende gestrand gelaat ná storm Thailand tref; een dood

Kragdrade wat op ‘n snelweg in Pak Phanang in die Nakhon Si Thammarat-provinsie omgewaai het. Foto: Sumeth Panpetch/AP

Ten spyte van ontruimingspogings en uitgebreide voorbereiding, is duisende toeriste gestrand gelaat nadat die tropiese storm Pabuk die suidelike kus van Thailand getref het.

Owerhede het alle bootdienste reeds Donderdag opgeskort weens onstuimige seetoestande en talle toeriste kon nie daarin slaag om betyds by lughawens uit te kom om vlugte huis toe te haal nie. Vlugte is later ook gestaak en lughawens is gesluit.

CNN berig Pabuk het die Pak Phanang-distrik in die Nakhon Si Thammarat-provinsie omstreeks 12:45 plaaslike tyd getref met winde van tot 75 km/h. Van die land se gewildste toeristebestemmings, insluitend die eilande Koh Samui, Koh Phangan en Koh Tao, asook Phuket en Koh Phi Phi, sal deur die storm geraak word.

Vloedwater in Pak Phanang in die Nakhon Si Thammarat-provinsie. Foto: Sumeth Panpetch/AP

“Dit is nogal skrikwekkend om hier te wees, want ons weet nie wat gaan gebeur nie en daar is geen manier om uit te kom nie,” het Miranda Abidyer (26), ʼn Amerikaanse toeris wat op Koh Samui gestrand is, aan CNN gesê. Volgens Abidyer moes sy en haar familie vandag teruggevlieg het VSA toe, maar hul vlug is gekanselleer.

Al Jazeera berig bome het op huise omgewaai, talle gebiede is sonder kragtoevoer gelaat en die storm het reeds wydverspreide skade aangerig. Volgens dié nuusagentskap is een persoon dood toe ʼn vissersboot naby die kus van die Pattani-provinsie omgeslaan het. Nog ʼn lid van die bemanning word tans vermis.

Inwoners in Pak Phanang in die Nakhon Si Thammarat-provinsie berei voor vir die storm. Foto: Sumeth Panpetch/AP

Oor die afgelope paar dae is sowat 6 100 mense uit Nakhon Si Thammarat, Pattani, Songkhla en Yala verwyder. Evening Standard berig beamptes het Vrydag met vragmotors deur die strate van Nakhon Si Thammarat gery en oor luidsprekers mense aangemoedig om die gebied te ontruim. “Enigiemand wat nog binne is, maak asseblief geraas sodat beamptes julle kan help om uit te kom. Julle kan nie hier bly nie. Julle kan nie agterbly nie. Dit is te gevaarlik,” het een beampte oor die luidsprekers gesê.

The Telegraph berig Krikkrai Songthanee, distrikshoof van die Koh Phangan-eiland, het gesê 10 000 toeriste is steeds op Koh Phangan, maar omdat die lughawens gesluit en bootdienste opgeskort is, is hulle heeltemal van die vasteland afgesny. “Ek het gisteraand met buitelanders gepraat en hulle is nie bang nie, hulle verstaan die situasie,” het Songthanee aan AFP gesê.

Plaaslike vissermanne bring ‘n boot uit die water in afwagting op die storm. Foto: Sumeth Panpetch/AP

Thailand se meteorologiese departement verwag dat die tropiese storm van Vrydagaand af sal begin verswak en na ʼn tropiese depressie afgradeer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.