Duisende in Filippyne ontruim oor tifoon Vamco

Tifoon Vamco (Foto: Skymetweather)

Die owerhede in die Filippyne het duisende inwoners in die oostelike kusgebiede beveel om te ontruim voor tifoon Vamco tref. Dit volg slegs ʼn paar weke ná die land geteister is deur die sterkste sikloon tot dusver vanjaar.

Winde van 125 km/h met rukwinde van 155 km/h word tydens tifoon Vamco verwag. Dit is die 21ste tropiese storm wat die Filippyne vanjaar tref.

“Ons het nog net 1% herstel en nou is daar nog ʼn tifoon op pad. Ons voel die sterk wind en reën,” het Joseph Cua, goewerneur van die Catanduanes-provinsie, aan DZMM-radio gesê.

Die eilandprovinsie Catanduanes en die nabygeleë Albay, albei suidoos van die hoofstad Manila, is verlede jaar Oktober die swaarste getref deur tifoon Goni – ʼn kategorie 5-tifoon wat 25 mense se lewens geëis het. Ses persone het verdwyn.

Vamco sal Polilio-eiland na verwagting teen Woensdagaand tref voor dit Donderdag die Filippyne se hoof-eiland, Luzon, Donderdag sal verlaat, het Chris Perez, ʼn weervoorspeller, aan DZMM gesê.

Inwoners in kusgebiede is beveel om hul huise te verlaat, het Christina Bosque, burgemeester van Polilio, gesê. Die voorkoming van die verspreiding van Covid-19 in ontruimingsentrums bly egter ʼn uitdaging.

Die Filippyne is ‘n eilandnasie wat uit sowat 7 500 eilande bestaan en in die tropiese westelike Stille Oseaan geleë is, ongeveer 100 km suidoos van die vasteland van Asië. Die land word deur sowat 20 tropiese storms jaarliks getref.

Vamco sal na verwagting ná die Filippyne in die rigting van Viëtnam beweeg. Viëtnam se weeragentskap verwag Vamco Sondag in sy sentrale streek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.