Duisende liters drank in Kaboel-kanaal gestort

Sowat 3 000 liter alkohol word in ʼn kanaal in Kaboel uitgegooi. (Foto: Skermgreep van video/Twitter)

ʼn Span Afghaanse intelligensie-agente het sowat 3 000 liter alkohol in ʼn kanaal in Kaboel uitgegooi. Die storting is die jongste gevolg van die Taliban se ystergreep in Afghanistan sedert hy verlede jaar aan bewind gekom het. Taliban-owerhede slaan nou toe op alkoholverkope.

Die Algemene Direktoraat van Intelligensie (GDI) het Sondag videomateriaal uitgereik waarin daar gesien kan word hoe sy agente alkohol, wat in vate gestoor is, in die kanaal uitgooi nadat daar vroeër tydens ʼn klopjag in die hoofstad op dié alkohol beslag gelê is.

“Moslems moet hulle ernstig daarvan weerhou om alkohol te maak en af ​​te lewer,” sê ʼn godsdiensleier in die video.

Dit is nie duidelik wanneer die klopjag uitgevoer is of wanneer die alkohol gestort is nie. Die agentskap sê wel in ’n verklaring drie handelaars is tydens die klopjag in hegtenis geneem.

Die verkoop en verbruik van alkohol is wel ook onder die vorige regime verbied, maar die Taliban is meer ongenaakbaar in sy afdwing van dié verbod.

Die groep het sedert sy bewindsoorname in Augustus verlede jaar al meer klopjagte begin uitvoer. Dit sluit in klopjagte op dwelmverslaafdes.

Die Taliban-regering se ministerie vir die bevordering van deug en die voorkoming van ondeug het ook verskeie riglyne uitgereik wat veral vroue se regte beperk.

Die meeste sekondêre skole vir Afghaanse meisies is onder die Taliban se bewind gesluit, vroue word grotendeels verbied om poste in die regering te beklee en mag nou ook nie meer lang reise onderneem tensy hulle deur ʼn manlike familielid vergesel word nie.

Vroue is intussen ook verbied om in televisiedramas in Afghanistan te verskyn ingevolge nuwe reëls wat deur die Taliban-regering ingestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Perdeby ·

Hulle voer sseker maar in, maar drink sal jy nie drink nie, maar jy sal seker in die kanaal kan swem, en bietjie water sluk.

Dries ·

Hier sal mense te lank lewe sonder alkohol. Minder ongelukke,mes stekery en geweld

Marius ·

Dit is erger as kommunisme. Vrouens het geen regte en word ook as niks werd beskou. Net daar as slaaf vir haar man in ‘n geforseerde huwelik. Ergste vorm van menseregte skending.

4ntj13 ·

Die Taliban is berug vir hul opium papawer verbouing. As hulle dit stopsit gaan hulle verskriklik verarm. Buitendien, as hulle kan brood bak, kan hulle self drank maak ook.

Gert ·

En hier gaan hulle terug Middeleeue toe. Wonder of hulle ook tegnologie gaan verban en met kamele aansukkel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.