Duisende pedofiele al in Franse Katolieke Kerk bedrywig – verslag

Argieffoto van Franse Katolieke Kerk bloot ter illustrasie. (Foto: JEAN-FRANCOIS MONIER / AFP)

’n Ondersoek na die Franse Katolieke Kerk het onthul dat ongeveer 3 000 pedofiele sedert 1950 in dié kerk bedrywig was.

Navorsing deur ’n onafhanklike kommissie het nou bevind dat tussen 2 900 en 3 200 pedofiele priesters of ander lidmate sedert die vyftigerjare in die binnekringe van die Franse Katolieke Kerk oortredings begaan het.

Jean-Marc Sauve, hoof van die kommissie, sê dit is boonop ’n konserwatiewe skatting.

’n Verslag deur die kommissie word Dinsdag bekend gemaak ná twee en ’n half jaar lange navorsing met behulp van kerk-, hof- en polisie-argiewe, asook onderhoude met getuies.

Sauve, ’n senior Franse staatsamptenaar, sê daar word met die verslag, wat oor 2 500 bladsye strek, gepoog om die aantal oortreders én die aantal slagoffers te bereken.

Die kommissie bekyk ook “die meganismes en skuiwergate, veral van institusionele en kulturele aard”, waardeur die vermeende oortreders in die kerk oorgesien is.

Die onafhanklike kommissie is in 2018 deur die Biskopskonferensie van Frankryk (CEF) en die nasionale gemeentekonferensie (CORREF) gestig in reaksie op ’n aantal skandale wat die kerk geruk het.

Altesame 22 regspersoneel, dokters, historici, sosioloë en teoloë is ingespan om bewerings van seksuele mishandeling deur geestelikes te ondersoek.

“Dit gaan vir niemand maklik wees nie,” sê Philippe Portier, ’n sosioloog verbonde aan die kommissie, oor die bekendstelling van die verslag.

Die verslag sal na verwagting ná die uitreiking daarvan in die Vatikaan noukeurig bestudeer word.

“Dit het dieselfde soort trefslag as dié van ’n bom,” sê Olivier Savignac van die slagoffersvereniging Parler et Revivre op sy beurt.

Biskop Eric de Moulins-Beaufort, die president van die CEF, sê hy vrees dat die verslag “beduidende en skrikwekkende syfers” sal onthul.

Die kerklike owerheid het intussen priesters en gemeentelede van die Franse Katolieke Kerk gewaarsku dat die bekendmaking van die verslag ’n baie moeilike oomblik gaan wees, wat ’n “houding van waarheid en deernis” sal vereis.

Sauve het by ’n vorige geleentheid gesê dat die kerk se hantering van vermeende pedofiele sake voorheen dikwels verkeerd aangepak is.

Dit is egter meestal onwaarskynlik dat die oortreder vervolg sal word omdat die misbruik buite die Franse verjaringswetgewing geskied het en dit onduidelik is watter moontlike stappe die kerk teen oortreders sal instel.

“Ek verwag dat ons gedwing sal word om hierdie las, so donker soos dit is, die hoof te bied sodat ons die nodige maatreëls kan tref,” sê Veronique Margron, president van CORREF.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wielspore ·

As laerskool seun was daar altyd ‘n onderwyser wat ons verplig het om te gaan stort na liggaams oefeninge en dan het hy kom staan en kyk na ons in die stort. Ek kan ook onthou dat hy gedurende houtwerk periode altyd een spesifieke seun na die gereedskap kamer toe gevat het en die deur toegemaak het. Dit was nie vreemd en die spesiale aandag van ‘n onderwyser het ons goed laat voel. As ek vandag terug dink was sy optrede onder verdenking en ek dink hy het by-motiewe gehad. Dit wil voorkom of pedofiele beroepe sal kies om hulle seksuele behoeftes te bevredig.

Realis Thailand ·

Die Katolieke kerk is al vir eeue verdag oor pedofiele.
Dit is niks snaaks nie
Maar verder wil ek byvoeg dat daar ook hope pedofiele in ander kerke ook is
Kerke in my oe is nie n plek om jou kinders heen te stuur sonder dat jy weet wat daar aangaan of n oog hou oor hulle

Frank John ·

Kerke word nou hier uitgesonder en iemand noem ‘n skool, maar dis oral in die samelewing. Ek het nie eens my skoonpa met my kinders vertrou nie, nie dat hy iets gedoen het nie maar ek het my kinders beskerm. Niemand was nie onder verdenking nie. Ek dink nie dis reg om soseer kerke te beskuldig nie maar die mense wat dit doen.

Nie Verbaas ·

Die wereld het siek mense maar wat skokkend is, is dat die mense in sulke hoë vertrouensposisies is dat mense hulle kinders aan hulle toevertrou sonder om twee keer te dink. Skandelik.

annie ·

Die Roomse Kerk het deur die eeue met ‘n magtige arm die Weste beheer maar dit gaan ook nie beter in ander kerke en gelowe nie. Kerkleiers glo hul het bowe menslike regte. Kyk hoe ontken aangeklaagde kamma-eer-waardes tydens hofsake skuld. Plaaslik het groot woede en ontkenning losgebars toe die drama Putsonderwater verskyn het…

Bushy ·

Die gemors is oral, Ek het nog nooit veel respek vir priesters gehad nie, jy moet n sekere karakter he om een te word en daarin le die probleem. Wonder hoeveel van hulle glo ooit werklik in n God

Jan Seerot ·

Ek weet darem nie, ek het nooit so iets in my lewe in die kerk in Sondagskool teëgekom nie. Niks. NGK. Ons was veilig en ek het baie geleer.

PersHeks ·

Op skool het ons ‘n onderwyser gehad wat altyd die sportfoto’s, ens moes neem en hy het ‘n donkerkamer gehad bo in die toring van die skool. Hy het gedurig ‘n skoolmeisie saam op gevat.
Dis die einste onderwyser wat sy hand onder my skoolrok ingedruk het om my binnebeen te knyp as ek iets verkeerd gedoen het met my skoolwerk. Ek was nie die enigste een nie maar niemand het gepraat nie … dit was seker so 4/5 na ek matriek geskryf het, dat hy geskors is.

Belinda ·

Dis hartseer om te dink mens se kinders is NERENS veilig nie, dogters EN seuns. Mens het altyd gedink as jy n seun het dit sal darm nie gebeur nie maar in vandag se siek lewe is NIEMAND meer veilig nie.
En dis ook hoe kerke ens gaan ophou praktiseer, omdat die siek mense deesdae in poste is waar jy sal dink jou kind veilig is.

Pietertjie ·

Klink my hulle probeer getalle bereken, eerder as om die skade te bereken en die oortreders tronk toe te stuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.