Duisende toeriste verlaat Thailand terwyl storm nader

Die storm kom al nader terwyl owerhede inderhaas die nodige voorbereidings probeer tref. Foto: Twitter via @Chutintorn_Sam

Duisende toeriste het sedert Donderdag inderhaas begin om van Thailand se gewildste vakansiebestemmings te verlaat in afwagting op ʼn magtige tropiese storm wat binnekort dié Suidoos-Asiese land se suidelike strandoorde sou tref.

Reën het reeds in die gebied begin val en owerhede het gewaarsku dat hewige reënval, stormwinde en onstuimige seetoestande in 16 provinsies verwag word wanneer die tropiese storm Pabuk Vrydag in volle swang begin woed.

Dit word gevrees dat Pabuk selfs erger kan wees as Tifoon Gay wat Thailand in 1989 getref en die dood van meer as 900 mense veroorsaak het.

‘n Sandbank wat op ‘n strand in Songkhla, Thailand gebou is om die wonings aan die kus teen die storm te beskerm. Foto: Sumeth Panpetch/AP

Die dood van ʼn Russiese toeris Woensdag in Koh Samui word reeds aan Pabuk toegeskryf – die man het verdrink terwyl hy probeer het om sy dogter te red wat in die rowwe seetoestande in die moeilikheid beland het. Volgens plaaslike media het die dogter die beproewing oorleef, maar haar pa is dood nadat golwe hom teen rotse vasgeslaan het.

Owerhede het reeds alle bootdienste opgeskort en Donderdag begin om vakansieoorde te ontruim. “Daar gaan swaar reënval wees en ons moet voorbereid wees vir oorstromings en die impak daarvan op vervoer,” het Prayuth Chan-o‑cha, Thailand se eerste minister, gesê. “Ons moet ons voorberei, maar as die reënval baie erg is, sal dit tyd neem om probleme op te los.”

Met bootdienste wat opgeskort is, sukkel talle toeriste egter om by lughawens uit te kom om ʼn vlug huis toe te haal. Tydelike skuilings is opgerig vir toeriste en inwoners wat ontruim moes word.

Mans in Thailand bring hul vissersboot uit die see in Songkhla, Thailand ter voorbereiding van die tropiese storm. Foto: Sumeth Panpetch/AP

Die eerste minister het laat Donderdag ʼn videokonferensie met die goewerneurs van die 16 provinsies gehou om voorbereidings vir die noodgeval te bespreek. Dit sluit in die grawe van kanale om vloedwater weg te keer, ontplooiing van reddingsvoertuie, bevele dat alle bote na hawens moet terugkeer en voorbereiding van mediese fasiliteite.

Thailand se meteorologiese departement verwag dat die storm van Donderdag tot Saterdag sal woed. Die twee provinsies wat na verwagting die ergste geraak sal word, is Surat Thani en Nakhon Si Thammarat. Surat Thani is die tuiste van enkele van die gewildste toeriste-eilande, insluitend Koh Samui, Koh Tao en Koh Phangan.

Die departement sê die storm sal in ʼn westelike rigting in die Golf van Thailand inbeweeg met winde van tot 65 km/h. Golwe van tot vyf meter hoog sal na verwagting voorkom.

Suidelike Thailand se toerismebedryf is ʼn groot geldmaker vir dié land en owerhede het meer sensitief geraak vir besoekers se veiligheid sedert Julie toe 47 Chinese toeriste verdrink het toe ʼn boot in rowwe seetoestande naby ʼn gewilde oord in Phuket in die Andaman See omgeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.