Duisende vee kom om in droogtegeteisterde Namibië

Droogte in Namibië (Foto: ANA)

Meer as 80 000 diere het reeds gevrek weens die droogte in Namibië, aldus amptelike verslae.

Die jongste statistiek bring die getal vrektes sedert Oktober 2018 op 90 000 te staan. Die regering het in 2019 gesê die land ervaar sy ergste droogte in 90 jaar.

Aldus die verslag het 88 219 diere tussen Oktober 2018 en September 2019 gevrek – ʼn gemiddeld van 7 350 vrektes per maand.

Die jongste getalle, wat Oktober 2019 tot Desember 2019 insluit, is nog nie beskikbaar nie, het Selma Ingula, ʼn landbou-analis by die ministerie van landbou, aan The Namibian gesê.

Volgens die verslag was meer as 56% (49 235) van die vrektes onder beeste, gevolg deur bokke op 31% (27 101) en skape op 12,3% (10 845). Altesaam 715 donkies en 323 perde het tydens die droogte omgekom.

Die situasie is glo in Omaheke die ergste en slegs ʼn paar weidingkolle is nog beskikbaar.

In Kunene, Kharas, Hardap, Erongo, Khomas, Otjozondjupa, Omusati, Oshana, Ohangwena en Oshikoto is weiding ook “baie kritiek” en grondgehalte strek van “baie sleg” tot “kaal”. Sommige boere het aangemeld dat hulle al hul diere verloor het.

Goliath Tuendjapi, bemarkingsbestuurder vir Namibië se Vleisraad, het gesê die vrektes kan dalk 100 000 verbysteek. Dit is moeilik om die statistiek by te werk, aangesien nie alle boere elke dier se vrekte by die land se vee-identifikasie en opsporingstelsel (Namlits) aanmeld nie.

Namibië het die afgelope paar jaar ongeveer 50% van sy vee verloor, het Tuendjapi bygevoeg.

Alhoewel groot getalle diere die vleismark oorstroom tydens droogte, is die periode daarna ʼn uitdaging wanneer boere weer hul vee moet aanvul. Dit lei tot prysverhogings vir vleisvervaardigers en verbruikers, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Ek is nie n boer nie en daarom verstaan ek dit seker ook nie,maar my gevoel is dat wanneer n boer sien die droogte is hier en gaan nie gou verby wees nie,sal dit dan nie beter wees om jou diere uit te din om sodoende meer weiding beskikbaar te he vir jou vee. Nou vrek hierdie diere en le en verrot in die veld waar die boer n paar rand kon gemaak het met die verkope van die vleis en rente op sy geld kon verdien, nou het hy niks en die volgende stap is om te skree vir hulp en dan moet almal weer help.

Maria ·

Boere dun wel vee drasties uit tydens droogtes. Die markte is oorstroom en pryse laag. Diere wat te maer is of lammers/kalwers het kan nie verkoop word nie, ook nie te jong diere. Na droogtes moet boere weer diere aankoop teen baie hoë pryse weens skaarstes.

Alex ·

Pryse laag? Jy maak ‘n grap. Dalk vir die boere, maar nie vir die verbruiker nie. Ons almal weet wie maak die winste.

Rudolph ·

Hoekom sê ons diere vrek alhoewel daar geen fisiese verskil is tussen die dood van ‘n mens en die dood van ‘n dier is nie. Is dit as gevolg van ons diepgewortelde disrespek vir diere?

pan ·

Vir n land wat se grootste grens die see is verstaan ek nie hoe diere of mens moet omkom agv n tekort aan water nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.