Duisende vlug toe vulkaan in DR Kongo uitbars

Smeulende as in Goma in die Demokratiese Republiek van die Kongo ná Nyiragongo uitgebars het (23 Mei 2021) (Foto: Moses Sawasawa / AFP)

Duisende inwoners het Sondagoggend vroeg gevlug toe ʼn vulkaan in die Demokratiese Republiek van die Kongo uitgebars en lawa van die nabygeleë Nyiragongo tot by Goma-stad gevloei het.

Selfs nog voor die amptelike aankondiging was mense in die straat te sien – hulle het alles gedra wat hulle kon terwyl hulle uit die stad gevlug het. Die laaste groot uitbarsting het die lewens van byna 100 mense geëis.

“Die lug het rooi geword,” het een inwoner, Carine Mbala, aan AFP gesê. “Daar is ʼn swaelreuk. In die verte kan mens die yslike vlamme sien wat uit die berg kom.”

Beamptes het gesê die lawa het Goma se lughawe bereik – wat aan die buitewyke van die stad geleë is, maar inwoners sê dit het net aan die rand van die fasiliteit gestop.

Kommunikasieminister Patrick Muyaya het Saterdag bevestig die ontruimingsplan is geaktiveer. “Die regering bespreek dringende stappe wat tans gedoen moet word.”

Pres. Felix Tshisekedi het gesê hy sal “sy reis in Europa onderbreek en Sondag terugkeer huis toe om toesig te hou oor die koördinering van hulp”.

Minstens 3 000 mense het na die naburige Rwanda gevlug, aldus die land se nasionale uitsaaier. Die Rwanda Broadcast Agency het foto’s op Twitter gedeel van diegene wat in Rubavu aankom. Dié inwoners het reeds bevestiging ontvang dat hulle kan terugkeer na hul huise in die Kongo en hulle het Rwanda bedank vir die hartlike verwelkoming wat hulle ontvang het.

Kragtoevoer is na groot dele van die stad afgesny toe honderde inwoners hul huise begin verlaat het. Diegene wat nie na Rwanda gevlug het nie, het in ʼn westelike rigting na Sake gevlug. Inwoner Richard Bahati het gesê hy is besorg oor die uitbarsting. “Ek het die vulkaan in 2002 beleef. Die vulkaan het al ons huise en al ons besittings verwoes. Dis hoekom ek weer bang is.”

Die Goma- vulkanologiese observatorium, het in ʼn verslag op 10 Mei gewaarsku dat seismiese aktiwiteit rondom die vulkaan toegeneem het en gesê dit sal noukeurig gemonitor word.

Die lawa het reeds ophou vloei. Vuur en rookwolke kom steeds uit die swart, rotsagtige lawa wat steeds onstabiel voorkom.

Nyiragongo het op 17 Januarie 2002 laas uitgebars. Meer as 100 mense is dood en byna die hele oostelike deel van Goma is met lawa bedek – insluitend helfte van die lughawe se landingstrook. Tydens daardie uitbarsting was die slagoffers hoofsaaklik siekes en bejaardes wat oorgelaat is aan die noodlot in die noordelike distrikte van die stad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Keith ·

“was die slagoffers hoofsaaklik siekes en bejaardes wat oorgelaat is aan die noodlot in die noordelike distrikte van die stad.” – wow, imagine living in a country where the sick and elderly were just left to face “death by lava” in 2002.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.