Duisende vlugte op Kersdag gekanselleer

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Die hoogs aansteeklike Omikron-variant van die koronavirus het duisende mense regoor die wêreld se reisplanne omvergewerp, met minstens 4 500 vlugte wat die afgelope paar dae gekanselleer is. Minstens 2000 hiervan was op Kersdag.

Volgens die vlugopsporingsdiens FlightAware is nóg duisende vlugte vertraag, hoewel vlugte wat reeds onderweg is nie beïnvloed is nie.

Die redes vir die kansellasies word onder meer toegeskryf aan vlieëniers, vlugkelners en ander personeel wat óf siek is óf in kwarantyn geplaas moet word weens blootstelling aan Covid-19.

Dit het lugrederye soos Lufthansa, Delta, United Airlines en verskeie ander gedwing om vlugte tydens een van die jaar se besigste reisperiodes te kanselleer.

Duisende mense wat vanjaar sedert die aanvang van die pandemie weer met hul geliefdes herenig sou word, sal dit dus ook nie kan doen nie.

Sowat 700 van die vlugte wat op 25 Desember gekanselleer is, is dié van of na Amerikaanse lughawens. Teen Saterdagoggend 07:20 (GT) was 1 500 vlugte reeds vertraag.

Vrydag is meer as 2 400 vlugte gekanselleer terwyl 11 000 vlugte vertraag was. Nog 600 vlugte wat Sondag na hul bestemmings sou vertrek, is ook gekanselleer.

“Die landwye toename in Omikron-gevalle hierdie week het ’n direkte impak op ons vlugspanne en operasionele bestuur gehad,” het United Airlines Vrydag in ’n verklaring gesê. Die lugredery Delta het gesê dat hy “alle opsies en hulpbronne uitgeput het – insluitend die herbeplanning van roetes en vervanging van vliegtuie en spanne om geskeduleerde vlugte te dek.” Chinese lugrederye was ook vir ʼn groot aantal kansellasies vandeesweek verantwoordelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.