Duisende wil uit Australië padgee

Australië is een van die min lande waar inwoners aansoek moet doen voordat hulle die land wil verlaat. (Foto: Unsplash)

Derduisende mense wil skynbaar uit Australië padgee en die getal mense wat aansoek doen om die land te verlaat, het die afgelope paar maande die hoogte ingeskiet.

Volgens die Australian Border Force (ABF) is amper 15 000 aansoeke in Augustus ontvang om die land vir langer as drie maande te verlaat, teenoor die ongeveer 6 600 aansoeke wat in Januarie vanjaar ingedien is.

Hoewel die rede vir hierdie uittog nie heeltemal duidelik is nie, blyk dit dat ontevredenheid met streng inperkingsmaatreëls en verpligte inentings teen Covid-19 tot die groot trek bydra.

Australië is een van die min lande ter wêreld waar inwoners verplig word om aansoek te doen voordat hulle die land mag verlaat, berig The Epoch Times.

Luidens die ABF se maandelikse reisvrystellingsverslag het die aantal mense wat vir drie maande of langer oorsee wil gaan, sedert April geleidelik toegeneem en in Julie en Augustus die hoogte ingeskiet.

Altesaam 9 580 mense het in April hiervoor aansoek gedoen, terwyl 10 055 mense in Mei, 11 659 in Junie en 15 146 in Julie die land vir langer as drie maande wou verlaat. In Augustus wou 14 900 mense die land vir langer as drie maande verlaat.

Amper die helfte van die aansoeke wat egter sedert April ingedien is, is afgekeur.

Dit is glo omdat diegene wat aansoek doen, dikwels versuim om hul redes vir die aansoek te staaf of nie aan die nodige riglyne voldoen om vrystelling te geniet nie.

Ontleders wys daarop dat inwoners van Australië toenemend ontevrede is met uiters streng inperkingsmaatreëls om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.

Frustrasie oor die afsonderingsmaatreëls en die afdwing van die Covid-19-entstof, veral op kinders, het glo begin oorkook, met toenemende protesoptrede en versoekskrifte teen die regering.

Hoewel Australië van die laagste Covid-19-infeksie- en sterftesyfers het, word van die strengste bewegingsbeperkings ingestel sodra infeksies toeneem. In Augustus is die noordelike dele van die land vir drie dae afgesonder, nadat ʼn enkele geval van Covid-19 opgemerk is.

Nuwe inperkingsmaatreëls is in Augustus in Melbourne in werking gestel nadat agt gevalle in die stad aangeteken is. Dié inperking sou aanvanklik net vir sewe dae wees, maar dit duur steeds voort.

Volgens The Epoch Times word gedeeltes van Sydney en Melbourne steeds ingeperk en kan inwoners net binne 5 km van hul huis beweeg.

Intussen is inperkingsmaatreëls wat in Junie verlede jaar in Sydney ingestel is, tot einde September vanjaar verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Cherokee ·

Daar val die Australiese droom plat. Droom nou ander rigtings.

Kaptein67 ·

Lekker lag ek nou …. So eintlik leef hulle maar in ‘n tronk, doen aansoek vir parool… :)

Gerhard ·

Stem saam, is dit nie waarheen die kriminele gepos was nie? Elke plek het maar hul probleme

cccp ·

Dit wil lyk of Australië se aanvanklike doel as “prison colony” jou werklikwaar toe nooit afgeskaf is nie…

SlinkseKoljander ·

Mense wil weer uit kom en reis, families gaan besoek en vakansie gaan hou, niks fout met dit nie.

Robert ·

Daar is meer as net die reislus… tans is dit ‘n onderdrukkende bewind in baie state daar.

Aai ·

Mense vlug na daai land nie omdat hulle wil dit gaan oor veiligheid dit is die groot rede hoekom mense van SA vlug na Australia.Sou nie se beter omstandighede maar seker baie veiliger ja.

KB ·

Dis die eerste land wat ons van weet. Wat van die meer as 300 opstande in Frankryk teen inperkings en “Covid-paspoorte”?
Maar die media verswyg mos hierdie tipe nuus.
Die wêreld word wakker.

Lanfear ·

Waar verswyg die media dit? Jy moet dalk bietjie wyer nuus kyk, ek sien elke dag berigte oor opstande in Frankryk (onder andere) ens. ens.

JohanR ·

Moenie Suid Afrika toe kom ouens, of nie lank dan wil julle weer terug vlug Australie toe. Hier regeer iemand met die akroniem ANC – All Nasty Criminals!

piet ·

Kyk, ek sou ook redelik keelvol raak as ‘n hele stad gegrendel word vir 1 Covid-geval. LOL

Gerhard ·

Ja ek sou ook moeg word, maar hulle het vir n kort tyd inperkings en dan gaan hulle aan. Smoor die ding in die kiem nog voor dit soos n veldbrand versprei.

Bart-Man ·

Ek ruil enige een van julle in Ozzie land. My 3 spk huis vir n woonstelletjie. Dan kan julle lekker agter pallesades die vryheid van ZA Aanskou.

Oom ·

Naraming is daar nou 71,000 openinge in Australië beskikbaar vir agtergeblewe Suid-Afrikaners op voorwaarde dat jy ge-antivirus is en tevrede sal mees met 24-uur klokreël. Die kanse is darem goed dat elektrisiteit en skoon water 24 uur per dag beskikbaar is. Die hekke moet net eers oopgemaak word in Australië. En dit lyk nie of dit gou gaan gebeur nie.

Richard ·

Aansoek doen om die land te verlaat? Is die artikel oor Australie of Sjina?

Pieter ·

Kom bly julle hier by die anc ek sal daar gaan bly dan praat ons weer.

Chris dupreez ·

Die ander lande moet nou net sê dat hulle niemand uit Australië gaan toelaat sonder inentings, bwaa haa haaaa

Pieter J ·

Die Australiers kla met die witbrood onder die arm. Hulle leef nog steeds in die paradys. Hulle moet net ophou om vir die liberales te stem dan is al hul prbleme opgelos.

Dries ·

Ek twyfel sterk of hulle werklik wil immigreer. Dit is n veilige eerste wereld land. Ek sal ook plekke ruil as ek kon.

JohanCzu ·

Ek sal ook nie regkom in so ‘n plek nie. Die mense moet maar na ‘n plek kyk waar mens vryheid het, soos wat ons hier in Paraguay ervaar.

Willem ·

Klink soos die sowjetunie of oos duitsland tydens die koue oorlog. Hoe kan mens iemand se vryheid van beweging so inperk dat landsburgers AANSOEK MOET DIEN NET OM DIE LAND TE VERLAAT? Dit is beslis nie n kenmerk van n demokratiese staat nie.

Anton J ·

Lekker kry ek nou. Die gras is mos groener daar ander kant seker omdat die “mis” meer is. O, voordat almal ook ‘n eier wil lê, ek was daar……. Suid-Afrika bly maar my land. Ek kan en mag dit sê want die water was getoets. Van my Suid – Afrika vriende wat nog daar bly kla. My een vriend het gesê ek wil huis toe kom…..

Belinda ·

wel ons kan altyd plekke ruil.. ek sal eerste in lyn staan met my 2 seuns.

Spook ·

Die grootste tronk in die wereld, en sigbaar uit die ruimte.

MakersMark ·

Soos Sir Ian Botham in 1992 voor die krieket wêreldbeker in Australië gesê het “what would be better than winning in front of 100 000 convicts”……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.