Duitsland dalk binne 10 jaar sy laaste gletsers kwyt

Berchtesgaden, Beiere (Foto: gameness/Pixabay)

Duitsland se gletsers smelt vinniger as wat verwag is en die land kan binne 10 jaar sy laaste yskappe verloor.

“Die dae van gletsers in Beiere is getel. En baie vinniger as wat verwag is,” het Thorsten Glauber, minister van omgewingsake in die suidelike streek, waar Duitsland se sneeubedekte Alpe geleë is, gesê. “Die laaste Beierse Alpe-gletser kan binne 10 jaar verdwyn.”

Wetenskaplikes het vroeër beraam dat die gletsers tot minstens die middel van die eeu sal hou, maar oor die laaste paar jaar het die ys baie vinniger begin smelt.

Duitsland se vyf gletsers, geleë in die Zugspitze-gebied en in die Berchtesgaden-Alpe, het die afgelope dekade sowat tweederdes van hul volume verloor. Die oppervlak het ook met ʼn derde gekrimp – gelykstaande aan sowat 36 voetbalvelde.

Glauber het ʼn sterk waarskuwing uitgereik oor klimaatsverandering en benadruk dat die gletsers “nie slegs ʼn monument van Aarde se geskiedenis in die vorm van sneeu en ys is nie”. “Hulle is termometers vir die stand van ons klimaat,” het hy bygevoeg.

ʼn Internasionale studie wat Woensdag vrygestel is, het bevind dat gletsers wêreldwyd al hoe vinniger hul massa verloor. Dit dra by tot meer as ʼn vyfde van hoër seevlakke in dié eeu.

ʼn Internasional span navorsers wat foto’s analiseer wat deur ʼn Nasa-satelliet geneem is, het gesê die wêreld se gletsers het tussen 2000 en 2019 gemiddeld 267 miljard ton ys elke jaar verloor – genoeg om Switserland elke jaar onder ses meter water te dompel.

Die verslag kom terwyl meteoroloë in Duitsland gesê het April vanjaar was die koudste in vier dekades. Duitsland het die afgelope paar jaar onstuimige weersomstandighede beleef, net soos elders in Europa. Ná ʼn winter waar die temperatuur tot onder vriespunt in Februarie geval het, het die kwikpunt tot 25,9 op 1 April gestyg voor dit vir die res van die maand met meer as 15 grade gedaal het.

Omgewingskundiges blameer klimaatsverandering vir die skuiwe en maan regerings om meer te doen om die skade te voorkom. Onder die 2015 Parys-ooreenkoms het lande onderneem om die wêreldwye temperatuurverhoging tot minder as 2 grade Celsius te hou, en verkieslik nader aan 1,5 grade teen 2050.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Therese ·

Alle voorspoed en sterkte aan ‘magtige’ regerings en ander belanghebbendes; vas onder die indruk dat die gang van die natuur/ klimaat ‘beheer’ kan word deur die mens.
Sal met belangstelling dophou …

Anton ·

Volgens hulle gaan die gletsers binne 10 jaar verdwyn maar volgens die Parys-ooreenkoms gaan die regerings die temperatuur in 2050 minder laat styg. Maak sin :-)

Luister ·

Nee, jy verstaan verkeerd. Hulle hoop dat dit minder gaan styg in 2050 met die wette wat hulle nou in werking stel. Maar (sug) jy weet mos mense is te lief vir hulle tegnologie, so dit gaan nie slaag nie.

Luister ·

Dit word beheer deur die mens. Ons het globale verwarming veroorsaak met al ons nie-natuurlike industriële uitlaatgasse. Maar jy is reg, die ‘magtige’ regerings gaan dit nie regkry om die mensdom tot ander insigte te bring nie. Ons is te lief vir ons tegnologie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.