Duitsland identifiseer meer as 400 pedofiele

(Argieffoto: pixabay)

Meer as 400 vermeende pedofiele is in Duitsland geïdentifiseer as deel van ʼn ondersoek ná ʼn groot kinderpornografienetwerk wat verbind word met die stad Bergisch Gladbach.

Altesaam 439 verdagtes is geïdentifiseer en 65 kinders is uit die kloue van pedofiele bevry sedert die netwerk in Oktober 2019 begin is.

“Ons het ʼn groot verskeidenheid verdagtes geïdentifiseer – mense wat groot salarisse verdien, hoogs opgeleide mense sowel as jou ‘gewone mense’,” het Michael Esser, die ondersoekgroepleier, gesê.

Volgens Esser het die verdagtes redelik normaal met hul alledaagse take voortgegaan “en was daar in hul werksomgewing geen aanduiding dat hulle by dié soort dade betrokke is nie”.

Die ondersoek het ook aan die lig gebring dat die meeste van die kinders deur ʼn lid van hul eie familie seksueel mishandel is.

Die ouderdomme van die slagoffers strek van een jaar tot 17 jaar, met die jongste verkragtingslagoffer wat drie maande oud was ten tyde van die misdaad.

Die Bergisch Gladbach-saak is in 2019 geopen met die inhegtenisneming van ʼn verdagte bekend as Joerg L.

Die polisie was toe geskok om op ʼn groot netwerk van pedofiele af te kom wat kinders mishandel het en beelde van die misdade in aanlyn kletsgroepe en besprekingsforums gedeel het. Dit het gelei tot een van Duitsland se grootste ondersoeke oor kinderseksmishandeling.

Peter Biesenbach, minister van justisie, het verlede jaar aangekondig dat ondersoekers op 30 000 potensiële verdagtes afgekom het wat met die netwerk verband hou.

Joerg L is in Oktober 2020 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die seksuele misbruik van sy dogter sedert sy drie maande oud was.

Hy is skuldig bevind aan tientalle dade van kindermishandeling en verkragting asook die verspreiding van kinderpornografie, meestal waarby sy dogter betrokke was.

Duitsland is die afgelope paar jaar geruk deur verskeie ernstige gevalle van kindermishandeling.

Altesaam 11 mense is in Junie 2020 in hegtenis geneem nadat hulle na bewering kinders seksueel misbruik en hul optrede verfilm het. Dié inhegtenisneming volg nadat daar beslag gelê is op video’s en foto’s uit die kelder van ʼn 27-jarige man van die stad Münster.

In ʼn vroeëre skandaal in Luegde, 125 km van Münster, het verskeie mans jare lank kinders by ʼn kampterrein mishandel.

Die regering het in 2020 strenger strawwe ingestel vir die gebruik en deel van kinderpornografie as deel van maatreëls teen kindermishandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Ons bly in ‘n siek wêreld waar kriminele en mal mense die hef in die hand het.

madels ·

Soveel mans EN vrouens is in pornografie betrokke, dis waar al hierdie verkragtings begin maar nee, die pornografiese materiaal is wyd en suid beskikbaar! Begin hier en maak alle pornografiese internet kanale toe, verban pornografiese boeke, videos en die siek Hollywood en hou op om vrouens op elke advertensie ten toon te stel ens ens ens miskien dan sal dinge bietjie verbeter

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.