Duitsland maan burgers om Oekraïne te verlaat

Annalena Baerbock, Duitsland se minister van buitelandse sake tydens die München-veiligheidskonferensie (19 Februarie 2022) (Foto: Ina Fassbender/Pool/AFP)

Duitsland het Saterdag sy burgers versoek om dringend Oekraïne te verlaat terwyl vrese voortduur dat Rusland moontlik binne die volgende paar dae sy buurland kan binneval.

“Duitse burgers word gemaan om nou die land te verlaat,” lui ʼn reisigerskennisgewing op die ministerie van buitelandse sake se webwerf.

Lufthansa se vlugte na Kiëf en Odessa word ook vanaf Maandag gekanselleer.

Duitsland se minister van buitelandse sake het egter vroeër Saterdag gewaarsku teen raaiskote of aannames oor Rusland se besluite vir Oekraïne. Dit volg ná die Amerikaanse president Joe Biden gesê het hy is oortuig Wladimir Poetin het reeds ʼn besluit gemaak oor ʼn aanval.

“In krisissituasies is die mees onbehoorlike ding om te doen, om te raai of aannames te maak,” sê Annalena Baerbock, in reaksie op ʼn vraag of sy met Biden se assessering saamstem. “Ek maan almal om na die feite op die grond te kyk.” Sy het ʼn waarskuwing uitgereik teen “geteikende waninligting”.

“Ons weet nie of enige besluit geneem is oor ʼn aanval nie,” het Baerbock bygevoeg en toegegee die dreigemente teen Oekraïne is “baie werklik”.

Dmytro Kuleba, minister van buitelandse sake van Oekraïne, het intussen gesê sy land tref voorbereidings om “op enige moontlike situasie te kan reageer”.

Baerbock het haar uitlatings gemaak tydens ʼn perskonferensie ná die G7-vergadering op die kantlyn van die München-veiligheidskonferensie. Die groep van sewe van die wêreld se mees ontwikkelde lande het benadruk dat hulle verenig is in hul ondersteuning vir Oekraïne en dat hulle vasberade is om te reageer op enige miskenning van die land se soewereiniteit, aldus Baerbock, wie se land die roterende presidensie van die groep hou.

“Trek jou troepe terug, vermy skade aan Rusland en Oekraïne en kom ons gesels,” het Baerbock gesê in ʼn pleidooi aan Poetin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.