Duitsland maan oor strenger inperking ná virussyfers opskiet

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Duitsland se Covid-19-gevalle het Vrydag die twee miljoen-kerf verbygesteek terwyl kanselier Angela Merkel gevra het ʼn vir ʼn “beduidende” verskerping van beperkings om die infeksiekoers te verklein.

Die Europese Unie (EU) se digbevolkste land het oor die afgelope 24 uur nog 22 368 nuwe gevalle bevestig, het Duitsland se Robert Koch-instituut (RKI) gesê. Die instituut is Duitsland se federale regeringsagentskap en navorsingsinstelling verantwoordelik vir siektebeheer en -voorkoming.

Nog 1 113 Covid-19-sterftes is ook bevestig, wat die sterftesyfer op 44 994 te staan bring.

Dié mylpaal kom net ure nadat Merkel gevra het vir strenger beperkings op openbare bedrywighede om die uitbreking in bedwang te bring.

Tydens ʼn vergadering van senior lede van haar CDU-party, het die kanselier gesê sy wil krisisgesprekke met streeksleiers na volgende week vervroeg.

Die kanselier het glo gesê die virus kan net gestuit word met “beduidende bykomende maatreëls”.

Merkel het ook haar kommer gelug oor die nuwe koronavirusstam wat onlangs in Brittanje ontdek is, en as meer aansteeklik beskou word. Sy sê mense moet dringend minder sosiale kontak hê.

Tweede vlaag

Die doodskiste van pasiënte wat weens Covid-19 gesterf het, by ‘n krematorium in Meissen in die ooste van Duitsland. (Foto: JENS SCHLUETER / AFP)

Duitsland het steeds beter gevaar as talle van sy bure in die vroeë dae van die pandemie, maar is swaar getref deur ʼn tweede vlaag, ten spyte van die feit dat een of ander vorm van afsondering sedert vroeg-November in die land geld.

Engeland het meer as drie miljoen gevalle en meer as 80 000 sterftes.

Merkel en die leiers van Duitsland se 16 state sou oorspronklik op 25 Januarie vergader om die jongste maatreëls te bespreek.

Sommige van die taaier opsies wat oorweeg word, sluit in padblokkades by grense, bepalings dat spesifieke, hoëgehalte maskers op sekere plekke gedra moet word en dat mense van die huis af moet werk, het Der Spiegel berig.

Kroeë, gimnasiums, kulturele en ontspanningsentrums is aan die begin van November gesluit, gevolg deur nie-noodsaaklike winkels en skole verlede maand.

Die owerhede het ook ʼn stokkie voor sosiale byeenkomste gesteek, kontak tot twee huishoudings beperk en ʼn beroep op mense gedoen om so ver moontlik tuis te bly.

‘Te veel verwagtings’

‘n Stadion in Berlyn is omskep in ‘n entstofsentrum. (Foto: Kay Nietfeld / POOL / AFP)

Die RKI het Donderdag oproepe herhaal dat strenger maatreëls ingestel moet word om infeksies te stuit en dit benadruk dat té veel mense nog saam kuier.

“Daar is steeds te veel uitsonderings,” het Lothar Wieler, hoof van die RKI, in Berlyn gesê.

Daar is ook “absolute ooreenstemming” onder statistici dat strenger maatreëls nodig is om “ʼn punt te bereik waar die voorkoms beduidend en vinnig daal, het die instituut se direkteur, Dirk Brockmann, gesê.

Daar is ook veel meer beweging tydens die tweede afsonderingstyd as die eerste.

“Mense is baie op die pad,” het Brockmann gesê.

Duitsland, met sy 83 miljoen inwoners, het reeds in Desember begin om mense teen Covid-19 in te ent.

Teen Donderdag het 1% van die bevolking reeds hul eerste inenting gehad, het die RKI gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pampoen ·

Die wereld se warmste hot-spots is UK met 16 sterftes per mijoen van die bevolking per dag. Duitsland en VSA staan op 10 en SA is vierde met 9.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.