Dwalende tier kry nuwe tuiste

Die inwoners was uit die veld geslaan oor die tier wat in die buurt ronddwaal (Foto: Skermgreep)

Die Bengaalse tier wat verlede Sondag los in die strate van ʼn woonbuurt in Houston in die Amerikaanse deelstaat Texas rondgeloop en daarna spoorloos verdwyn het, is ongedeerd gevind.

Dié groot kat van byna 175 kg is intussen na sy nuwe tuiste by die Cleveland Amory Black Beauty-diereskuiling in Murchison, Texas, oorgeplaas.

Maroela Media het vroeër berig inwoners van die woonbuurt in Houston was in rep en roer oor die tier wat in hul buurt rondgedwaal het.

Mense het vroeër gesien hoe ʼn man, wat glo die tier se eienaar en ook ʼn voortvlugtige in ʼn moordsaak is, die tier in sy motor gelaai en weggery het. Die man, geïdentifiseer as Victor Hugo Cuevas (26), is Maandag in hegtenis geneem op aanklag van moord, maar die tier was skoonveld.

Volgens Ron Borza, bevelvoerder van die polisie in Houston, het die polisie die tier, genaamd India, by Cuevas se vrou opgespoor. Die vrou het ingestem om die tier aan die polisie te oorhandig.

Borza het egter nie gesê waar die groot kat die week deurgebring het nie, maar benadruk dat die vrou glo deurlopend geweet het waar hy is.

Cuevas se regsverteenwoordiger het aanvanklik ontken dat die tier aan Cuevas behoort, hoewel gerugte daarop gedui het dat die tier in die huis wat Cuevas gehuur het, aangehou is. Dit is egter onwettig om ʼn tier binne die stadsgrense van Houston aan te hou.

“Afgesien van wetgewing, is dit nie goed vir die tier se welstand om hom in ’n huis aan te hou nie,” het Borza gesê.

Die polisiedepartement in Houston het ʼn video gedeel wat wys hoe India by die dieretoevlugsoord versorg en gevoer word. Daar gaan hy nou sy eie kamp van ongeveer 0,2 ha hê waarin hy vry kan rondloop.

“Ons doel is om hom die beste lewensgehalte te gee,” het Noelle Almrud, direkteur van die oord, tydens ’n mediakonferensie gesê.

Almrud het aan verslaggewers gesê dat India vir 30 dae in kwarantyn geplaas gaan word voor hy aan sy nuwe habitat bekendgestel sal word.

“Hy lyk egter op die oog af blakend gesond.”

Volgens die Wêreldnatuurfonds (WWF) is nagenoeg 5 000 tiere in Texas in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Helene

Dankie tog India is veilig. Many to go.