Dwelms vermom as groente by grens

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Lars Blankers/Unsplash)

Smokkelaars is met miljoene dollar se metamfetamien betrap nadat hulle probeer het om dié dwelm as uie te vermom en in ʼn besending groente die VSA in te smokkel.

Doeanebeamptes het verlede week ʼn sleepwa gelaai met groente by die grens tussen Amerika en Meksiko aangekeer, nadat ʼn snuffelhond iets tussen die skerp reuk van uie geruik het.

Tussen die derduisende gewone uie het beamptes byna 1 200 pakkies metamfetamien gevind.

Die 600 kg metamfetamien het ʼn straatwaarde van sowat $2,9 miljoen (meer as R44 miljoen).

Die dwelms is in klein bolletjies verpak met ʼn wit bedekking daaroor. Dit was glo bedoel om die dwelms soos groente te laat lyk.

“Dit was ʼn slim poging om dwelms die VSA in te smokkel en ek het nog nooit ʼn poging soos dié teëgekom nie,” het die doeane- en grensbeskermingbeampte Sidney Aki gesê.

“Ek kan glo dat dit redelik tydrowend was om dwelms in hierdie klein pakkies toe te draai en dit soos uie te laat lyk. Hoewel ons vantevore al dwelms in produkte gesien het, is dit ongewoon vir ons om hierdie vlak van gedetailleerde beplanning teë te kom.”

Nuus oor die besending dwelms kom nadat doeane- en grensbeskermingbeamptes 2 kg dagga onderskep het wat in bokse Lucky Charms-graankos versteek is.

Hierdie dwelms was van die Amerikaanse deelstaat Kentucky op pad na Brittanje toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henri ·

As hierdie besending dwelms as groente vermom is, as wat is die dwelms vermom wat dwelmmuile in sakkies sluk?

Witbaard ·

Jy kan nie n hond se reuksintuig flous nie. Mooi so, “oubaas se honne”!!

JM ·

Hoop Suid-Afrika se hondesnuffelaars is ook so op en wakker! Daar is geen perke aan smokkelaars se vindingrykheid nie.

Kokerboom ·

Dit verstom my altyd hoe vindingryk kriminele kan wees. As hul net al die energie ekonomies wil aanwend sal hul lande nie in gemors wees wat dit is

Owlie ·

Die lewe vir die smokkelaar, dealer tot die grootste grootkop betrokke en versntwoordrlik vir dwelms is te maklik – kry paar addicts in rehabs om name bekend maak, vervolg hulle en maak hulle die name verder bekend maak tot maak nie saak watse groot kop of bekende aan gewys is nie Kry die gespuis uit ons land uit en red die kinders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.