Dwergplaneet Sedna kry maatjie

Sterrewag

Sterrewag

Die dwergplaneet verder as Pluto, Sedna het elf jaar na sy ontdekking ‘n maat gekry.

Met Sedna se ontdekking is aanvanklik gemeen die son se tiende planeet is ontdek, maar Sedna se planeetstatus het saam met dié van Pluto in die slag gebly en het dwergplanete geword.

Nou is nog ‘n dwergplaneet ontdek wat min of meer dieselfde soort unieke trajek om die son volg as Sedna, wat op sy beurt vrae laat ontstaan hoekom hemelligame wat eintlik in sirkelvormige bane behoort te beweeg, sulke uiters eliptiese bane het.

Die nuwe dwergplaneet staan voorlopig nog as 2012 VP113 bekend. Sedna se baan strek van 76 astronomiese eenhede (AE) tot 937 AE en een omwenteling om die son duur 11 400 jaar. 2012 VP113 se wentelbaan wissel tussen 80 AE en 226 AE, en het ‘n omwentelingsiklus van 4 000 jaar. Beide se naaste besoek aan die son is dus steeds ver buite die verste reikwydte van die Kuipergordel, en maak eerder deel uit van die binnekring van die Oortwolk.

Die navorsers wat die ontdekking pas in die tydskrif Nature gepubliseer het, dr. Scott Sheppard van die Carnegie Institution for Science in Washington en Chadwick Trujillo van die Gemini-sterrewag in Hawaii, meen daar kan ‘n hele aantal van hierdie dwergplanete wees. Hulle kan egter net waargeneem word wanneer hulle op hul naaste punt aan die son is, en dit is slegs ‘n fraksie van hul omwentelings.

Hoe meer ontdek word, hoe beter kan geoordeel word hoe die wentelbane ontstaan het. Intussen bestaan drie moontlikhede – ‘n ster wat na-aan die son se ontstaan naby verbybeweeg het en die wentelbane versteur het, of ‘n ster wat met sy nabye besoek materiaal met die son uitgeruil het, of ‘n planeet ongeveer tien keer so groot soos die aarde wat uit die binnekring geskop is, en in tydens sy uittog dwergplanete soos ‘n herder weggelei het.

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.