Dylann Roof gevonnis vir nege moorde

Dylann Roof. Foto: AP Photo/Chuck Burton

Dylann Roof. Foto: AP Photo/Chuck Burton

Dylann Roof (22) is Dinsdag die doodstraf deur ʼn jurie opgelê nadat hy skuldig bevind is aan die moord op nege mense in ’n kerk in Charleston in die Amerikaanse deelstaat Suid-Carolina.

Die jurie moes besluit tussen lewenslange tronkstraf en die doodstraf.

Roof is die eerste persoon om die doodstraf opgelê te word vir federale haatmisdade. Die jurie het ná sowat drie uur se beraadslaging die besluit bekend gemaak.

Roof is verlede maand op 33 aanklagte, waaronder aanklagte van haatmisdade, skuldig bevind. Hy het homself verteenwoordig tydens die voorvonnisverrigtinge en aangevoer dat hy nié geestesongesond is nie. Hy het egter geen berou getoon of versoek dat sy lewe gespaar word nie.

Roof het aan FBI-beamptes gesê hy wou segregasie terugbring of dalk selfs ʼn rasse-oorlog ontketen met die moorde op 17 Junie 2015. Hy het in sy bekentenis gesê hy het die moorde gepleeg nadat hy “swart op wit misdaad” op die internet ondersoek het.

Daar is tydens die verhoor gehoor dat Roof 77 skote afgevuur het tydens die aanval in die kerk.

ʼn Video-opname van ʼn onderhoud wat FBI-agente met Roof gevoer het, is tydens die moordverhoor in die hof gespeel. In die video erken Roof laggend dat hy die moorde gepleeg het.

Beeldmateriaal van ʼn kringtelevisiekamera by die kerk het gewys Roof was sowat 45 minute lank op die perseel. Hy het aan die FBI-agente gesê hy het 15 minute lank in die kerk gesit om te besin of hy die moorde moet pleeg.

Die oorledenes is geïdentifiseer as past. Clementa Pinckney (41), Cynthia Hurd (54), Tywanza Sanders (26), ds. Sharonda Singleton (45), Myra Thompson (59), Ethel Lance (70), Susie Jackson (87), ds. Daniel Simmons sr. (74) en DePayne Doctor (49).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Incogniteo ·

Hy is die doodstraf opgelê vir moord. Kyk hoe subtiel word federale haatmisdade ingesleep om die doodstraf vir haatmisdaad in die toekoms te lê.
Slinkse beplanning deur met woorde te breinspoel deur onderbewustelike persepsies te skep. dat moord en haat dieselfde ding is en dieselfde straf verdien.
As ek ongeregtigheid haat, is dit ook ‘n strafbare haatmisdaad?
Het enige iemand dalk ‘n universele definisie van haatmisdaad asb?

Marcel ·

Die 1ste sin sê, skuldig bevind aan moord, eers later kom haatmisdaad in. Ek dink as dit net haatmisdaad was sonder die moord was dit definitief nie doodstraf nie. Jy behoort dit maklik te kan onderskei in ‘n volgende hofsaak. Maar net my opinie.

Cherokee ·

Soos Marcel ook vir jou sê, jy wil ‘n berg van ‘n molshoop maak.

Annelize ·

dit is reg hy het tyd gehad oor daaroor te besin voorbeeld vir ander as SA die doodstraf terug bring sal dit BAIE beter gaan

Gideon ·

Geen berou, in die kerk gesit en dink of hy dit moet doen….ek wens ons het die Amerikaanse regstelsel in SA vir net n jaar of twee…..die mense speel nie met misdadigers nie. Ons bederf ons sin te veel met ons demokrasie. As jy oortree het dan het jy jou regte opgegee….as jy gemoor het verdien jy nie om te leef nie. Klaar. Punt.

Nico ·

Nou gaan hy 19 jaar op “death row” wees terwyl appèl op appèl volg deur staadsbesoldigde regsverteenwoordigers. Absolute las op die belastingbetaler. Alternatief? Laat hy WERK vir sy verblyf voor die einde kom.

jaco ·

Dis vir my ‘n raaisel waarom hy dit gedoen het, want in sy land ONTBREEK die volgende:
1. Regstellende aksie wat op groot skaal wit mense werkloos en arm wil maak.
2. Nkandla-paleis vir die president, gebou met belastingbetalers se geld
3. Beurtkrag
4. Alewige toesluit van huise en motors en wegsteek van waardevolle goed uit voorsorg teen gedurige misdaad.
5. Moordveroordelings op mense wat uit selfverdediging misdadigers geskiet het.
En so kan my lys aan en aan en aan gaan.

John ·

Iemand al gevra oor of die antidepressant wat aan hom voorgeskryf was nie daartoe aanleiding gegee het nie, vandaar die afgestompe gevoelloosheid. Onthou die Duitser wat in die berg vasgevlieg het? Te veel dopamien of serotonien of ‘n wanbalans of ‘n verkeerde medikasie-kombinasie, of saam met drank, kan mense in vreemde wesens verander. Hy moes hulp gekry het. En nou moes ander mense boet. En nou is die psigater soek. Aai tog. En nou gaan die jongman sterf en hy kan nie eers mooi besef wat aangaan nie al glo hy so.

Aai ·

Hy is ter dood veroordeel, maar dra ‘n koëlvaste baadjie? Laat wat moontlik kan gebeur, gebeur en spaar die moontlike skade aan ‘n koëlvaste baadjie + elektrisiteit / spuitnaald.

Voorlaaier ·

Nu net iets interesant gelees…S.A. se moord syfer vir 2 maande is meer as Ireland sin vir 30 jaar!!….?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.