€400 miljoen vir dadelike verligting in Duitsland

Duitse soldate begin met opruimingswerk na die vloede. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Kanselier Angela Merkel se kabinet het Woensdag ʼn groot noodlenigingspakket goedgekeur vir streke in Duitsland wat deur vloede geteister is. Miljarde is glo nodig om huise, ondernemings en noodsaaklike infrastruktuur te herbou.

ʼn Week ná die streek se ergste vloedramp in menslike geskiedenis, wat die lewens van minstens 170 in Duitsland en 31 in België geëis het, het die regering sowat €400 miljoen (byna R7 miljard) bewillig vir onmiddellike verligting.

Die helfte van die fondse kom van die federale regering en die res van 16 streekstate, het finansiesminister Olaf Scholz gesê. “Ons sal seker maak dat die lewe aangaan,” het hy aan verslaggewers in Berlyn gesê.

Volgens hom sal ʼn heropbouprogram ter waarde van miljarde euro oor die volgende paar maande van stapel gestuur word om die verwoesting op te ruim en infrastruktuur soos paaie, brûe en spoorweë te herstel. “Ons sal herbou – ondernemings, aanlegte, geboue,” het hy bygevoeg.

Kesseling, Duitsland. (Foto: Ferdinand Merzbach/AFP)

Die vloedskade sal waarskynlik die versekeringsbedryf ongeveer €5,9 miljard uit die sak jaag, het die GDV-versekeringsbedryfvereniging gesê en beskryf die ramp as “een van die mees verwoestende storms in onlangse geskiedenis”. Die werklike koste sal waarskynlik selfs hoër wees, aangesien minder as die helfte van Duitsers in die betrokke state teen swaar reën en vloede verseker is.

“Die vloede het ongekende verwoesting veroorsaak,” het Merkel aan verslaggewers gesê. Merkel, wat vanjaar ná 16 jaar aan bewind uittree, het gesê haar regering sal alles in sy vermoë doen “om die geld so vinnig as moontlik by die mense uit te kry”. “Dit sal ʼn paar dae duur,” het sy verduidelik en genoem dat sy plaaslike slagoffers ontmoet het “wat niks oor het buiten die klere wat hulle dra nie”.

Die streeksregering in Wallonië in België het Woensdag ʼn bedrag van €2 miljard in konstruksiehulp belowe.

Intussen duur die soektog na vermiste voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Prontuit ·

en so is die tekens elke dag al hoe duideliker maar tog draai ons nie ons hoofte na bo nie en bly ons nie op ons kniee nie! Sterkte aan almal daar dis verskriklik

A ·

“Here, gee vir ons wysheid vir om hierdie plaag te genees.”

“Hierso, my kind, ek het die slimste mediese wetenskaplikes geïnspireer om ‘n inenting te maak.”

“Nee dankie, dis ‘n Marxist gifstof. ”

“Here, help ons met hierdie erge klimaatstoestande.”

“Hierso, my kind, ek het slimste klimaat wetenskaplikes geïnspireer om om julle te waarsku oor die koolstof wat julle pomp in die lug.”

“Nee dankie, dis ‘n liberale leun.”

Willem ·

Ongelooflike skade. Herinner my aan Laingsburg 1981 se vloed wat die hele dorp weggespoel het.

Elinette ·

Darem nie die hele dorp nie, maar groot gedeeltes daarvan.

Tiptol ·

Tweehonderd mense het hul lewens verloor in 2 lande weens ‘n natuurramp. Hier by ons het 200 mense hul lewens verloor in een land agv……..

Andrew ·

My vraag. Al die lande in die wereld is in die skuld op die oomblik. By wie leen hulle dan die geld?

Tanniepetoors ·

Ag asseblief. Dis nie Suid-Afrika wat onder rommelstatus is volgens Moody’s nie.

Elinette ·

Ha-ha-ha-ha!!!!!!!!!!!! Hie-hie-hie-hie …….. O, la-la-la, hoe lekker lag ek nou! Weet hulle ooit waar Duitsland en België is?

Tanniepetoors ·

Ek twyfel sterk. Kinders leer nie meer Aardrykskunde en Geskiedenis soos voor 1994 nie. Hul algemene kennis van enigiets behalwe Twitter, Youtube of ander sosiale media is onbeduidend. Bou nou ‘nasie met sulke mense en ‘n regering soos huidig. Verbeeldingsvlugte.

Karina ·

Die regering is ‘n regering wat hul burgers ondersteun, nie alles wegvat vir eie gewin nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.