Ebola in DRK nou amptelik ergste uitbraak

Daar is geen spesifieke behandeling vir ebola nie en ’n entstof moet nog uitgevind word. Foto: killebolavirus.com

Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gaan gebuk onder die ergste uitbraak van ebola in die land se opgetekende geskiedenis.

Ál meer waarskuwings klink op dat die situasie kan vererger weens aanvalle deur gewapende groepe en weerstand van gemeenskappe in die gebiede in die ooste van die land waar die siekte voorkom, berig Al Jazeera.

Oly Ilunga Kalenga, die DRK se minister van gesondheid, sê altesaam 319 bevestigde en moontlike gevalle is reeds sedert die uitbraak in Augustus begin het in die provinsies Noord-Kivu en Ituri aangemeld

Dis een meer as die syfer van 318 gevalle wat in 1976 aangemeld is toe die dodelike ebolavirus vir die eerste keer in Yambuku in die provinsie Equateur geïdentifiseer is.

Kalenga sê 198 sterftes is tot dusver aangemeld in die huidige uitbreking –  dié land se tiende. Van die 284 bevestigde gevalle het 97 dit oorleef.

Geen spesifieke medisyne of behandeling is teen die ebolavirus beskikbaar nie. Simptome begin tussen twee dae en drie weke nadat die virus opgedoen is. Dit sluit koors, seerkeel, spierpyne en hoofpyn in.

Simptome soos naarheid, braking, en diarree volg meestal, terwyl die werking van die lewer en niere begin afneem. Dan begin sommige mense probleme met bloeding te ondervind.

Die siekte word deur kontak met die bloed of liggaamlike vloeistowwe van ʼn besmette dier (tipies ape of vrugtevlermuise) opgedoen. Sodra menslike besmetting voorkom, kan die siekte verder tussen mense versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Dis net ‘n kwessie van genade of tyd en hierdie perssiektes reis saam oor ons oop grense. Die bagasie van reisigers word nie deursoek nie en voertuie se onderstelle nie gespuig teen muskiete nie. Die Zika-virus is reeds in Angola doenig en malaria beweeg suid. Op ons buureieland Madagaskar vat rotte oor. Maar SA leef in die Mandela-euforie van ‘darling of the universe’…

Peet Schabort ·

Gee kans, met die klankie van riool in die lug sal ons beurt ook kom met een of ander siekte. Die Vuilrivier . . . ekskuus tog, Vaalrivier is tans die grootste rioolsloot in ons land.

HPV ·

Ebola, derdewêreldse bemetting sê dit alles! Rioolverwerking kan nie eers bestuur word nie daarom is ons nie verbaas dat die lande tot totale verval afgetakel word nie…Suid Afrika tel reeds onder die lande…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.