Ebola ook op Suid-Soedanse grens gevind

‘n Gesondheidswerker in Bikoro in die DRK. Argieffoto: AP.

Suid-Soedan staar nou nog ʼn uitdaging in die gesig nadat die eerste bevestigde geval van Ebola naby dié land se grens met die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) aangemeld is.

Volgens ʼn verslag deur die Suid-Soedanse ministerie van gesondheid het gesondheidsbeamptes ʼn 40-jarige vrou met Ebola gediagnoseer en haar gewaarsku om nie te reis nie. Nietemin het sy 500 km vanaf Beni in die Noord‑Kivu‑provinsie in die DRK, na die dorp Ariwara in die Ituri‑provinsie gereis. Die geval is toe op dié dorp aangemeld.

Die situasie in die DRK het soveel vererger omdat die grootste deel van die land geen toegang tot basiese dienste soos krag, onderwys of paaie het nie. Dit is ook een van die vyandigste gebiede ter wêreld weens die aanhoudend aanvalle op nooddienste deur militêre groepe. Dit bemoeilik dus enige pogings om die siekte hok te slaan en pasiënte te behandel.

Die jongste Ebola‑uitbreking is laasjaar Augustus in Noord‑Kivu in die DRK bevestig voordat dit na die naburige Ituri‑provinsie versprei het.

Die jongste syfers van die DRK se gesondheidsministerie wys dat meer as 2 200 Ebola‑gevalle bevestig is sedert die virus weer sy verskyning gemaak het en meer as 1 500 mense is reeds dood daaraan, wat dit die tweede grootste uitbreking in die geskiedenis maak.

Die eerste geval waar die Ebolavirus grense oorgesteek het, was twee noodlottige gevalle wat verlede maand in Uganda aangemeld is. Die slagoffers het saam met familie na die DRK gereis en is daar met die virus besmet voordat hulle na Uganda teruggekeer het.

Hoewel die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) lande aangrensend aan die DRK help om vir moontlike verspreidings voor te berei, het politieke onrus in Suid-Soedan hierdie pogings belemmer.

Suid-Soedan se gesondheidsorg is verswak deur jare se burgeroorlog wat dit kwesbaar maak vir die potensiële verspreiding van die dodelike virus.

Die wêreld se ergste epidemie van Ebola het ongeveer 11 300 menselewens in Guinea, Sierra Leone en Liberië in Wes-Afrika tussen 2013 en 2016 geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Realis ·

Hoekom bodder die weste die heeltyd waar hulle nie welkom is nie? Die aarde het stelsels en prosesse in plek wat alles altyd laat terugkeer na natuurlike orde toe. Entropie, die mens noem dit natuurlike chaos maar dis orde vir die aarde. Los Soedan en ander “onafhanklike” lande uit en binne ‘n relatiewe kort tyd sal entropie die normale balans herstel.

marous ·

Nog nooit van enige afrika land gehoor wat europese of selfs ander afrika lande bystaan met hulp nie , ten spyte daarvan dat hul leiers biljoene verdien uit olie , diamante ens ens . WGO , VN , NRO ‘s is net ‘n melk koei vir ander om hul hande op werkende mense se geld te le , deur op gevoelens en geloof te speel en dan ‘n klomp geld te maak .Dis die waarheid .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.