Een van die twee Amerikaanse nooddienswerkers wat met die ebola-virus besmet is, land Saterdag in Georgia, Amerika.
Kent Brantly, ʼn dokter wat ebola-pasiënte in Liberië behandel het, word met ʼn privaatvliegtuig na Amerika vervoer. Die vliegtuig is met ʼn spesiale opvoubare isolasiekamer toegerus. Hy word daarna dadelik na ʼn spesialissorg-isolasie-eenheid by Emory Universiteitshospitaal in Atlanta geneem.
Brantly (33) en Nancy Writebol, ʼn Christelike sendingwerker, is altwee in ʼn ernstige maar stabiele toestand nadat hulle die virus opgedoen het. Dit is die ergste uitbreking van ebola nog ooit. Meer as 700 mense is reeds sedert Maart in Wes-Afrika oorlede.
Writebol sal ook by die Emory-universiteitshospitaal behandel word. Emory-gesondheidsorg het in ʼn verklaring bevestig die eenheid is fisies verwyder van ander pasiënte en het ʼn unieke infrastruktuur en toerusting om ʼn buitengewone hoë vlak van kliniese isolasie te bied.
Dit is die eerste keer dat pasiënte, wat met ebola besmet is, in Amerika behandel sal word.
Die besluit om die pasiënte na Amerika terug te bring het wye reaksie uitgelok. Donald Trump, die televisie-persoonlikheid, het aangevoer die pasiënte moet verbied word om weer na Amerika terug te keer.
Minstens 729 mense is reeds sedert Maart in Wes-Afrika oorlede en 1 300 gevalle van die virus is reeds aangemeld. Die Wêreldgesondheidorganisasie het gesê die betrokke lande waar die gevalle aangemeld is, is Guinee, Liberië, Nigerië en Sierra Leone.
Daar bestaan nog nie enige inenting teen ebola nie. Simptome sluit spierpyn, koors, hoofpyn en in sommige gevalle ook eksterne en inwendige bloeding in.
Ongeveer twee derdes van pasiënte wat die virus opgedoen het sedert dit vir die eerste keer in 1976 bespeur is, is oorlede. Daar was reeds twee vorige uitbrekings met ʼn noodlottigheidskoers van 90%.
Lees ook:
VSA-dokter met ebola is “swak, baie siek”
Lugredery skort vlugte op weens ebola-uitbreking
Vierde land meld Ebola-gevalle aan
Ebola-sterftes styg steeds
Ebola-sterftes nou meer as 140
Ebola-virus eis 121
Ebola-uitbreking bevestig
Baie risky dink ek
Gelukkig is die Amerikaners se standaarde so hoog dat hulle die kans kan vat. Indien die pasiënt hierna toe sou kom, gaan almal vanaf die loods, lughawe personeel, ambulansmanne, hospitaal personeel, tuinier en die bure se hond, almal Ebola hê teen die einde van die week.