Ebola-virus eis 121

ebolaDie Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) het bekend gemaak die dodelike Ebola-virus wat in Wes-Afrika uitgebreek het, het reeds tot 121 sterftes gelei.

Die organisasie het teen Maandag reeds altesaam 200 vermoedelike of bevestigde gevalle van Ebola waargeneem. Die virus is in die sentrale en oostelike dele van Afrika, Guinee, Liberië en Mali teenwoordig. Die grootste aantal gevalle is in Guinee aangeteken. Mali het nog nie een geval bevestig nie. Altesaam 21 gevalle is in Liberië aangeteken met 10 sterftes. Toetse duur voort.

Daar is geen entstof of genesing vir die virus nie. Beamptes het gesê dat die huidige uitbreking kan nog maande lank duur. Gesondheidsorgwerkers isoleer die siekes en poog om met almal in verbinding tree wat moontlik met die slagoffer in aanraking was.

Intussen het Francois Fall, Guinee se minster van buitelandse sake, aangekondig dat die verspreiding van die Ebola-virus onder beheer is. “Ons het die verspreiding van die epidemie onder beheer,” het Fall aan verslaggewers in Pretoria gesê. Hy het met sy Suid-Afrikaanse eweknie, Maite Nkoana-Mashabane, vergader. “Ons kons selfs ʼn paar siekes genees.”

Fall het gesê die land het voordeel getrek uit die hulp van die internasionale gemeenskap. Internasionale hulpverleningsorganisasies het verlede week met ʼn reeks noodmaatreëls in Guinee en oor Wes-Afrika begin om die “ergste uitbreking van die Ebola-virus” te beheer. -SAPA-AP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.