Ebola-vrese in Europa

Dokters Sonder Grense verwyder 'n persoon se liggaam in Guinee wat weens die ebola-virus gesterf het Foto: thewestsidestory.net

Dokters Sonder Grense verwyder ‘n persoon se liggaam in Guinee wat weens die ebola-virus gesterf het Foto: thewestsidestory.net

Nog drie mense word in Spanje in isolasie gehou nadat ʼn verpleegster by ʼn hospitaal in Madrid ook met die ebola-virus besmet is.

Die Europese Unie het antwoorde geëis hoe die siekte in Spanje se mees gespesialiseerde behandelingseenheid kon versprei het. Die verpleegster het twee bejaarde Spaanse sendelinge by dié hospitaal behandel nadat hulle van Wes-Afrika af huis toe gevlieg het. Hulle het by die hospitaal gesterf.

Nagenoeg 3 500 mense het reeds aan die virus gesterf sedert die uitbreking aan die begin van die jaar.

Volgens toetse is die 40-jarige verpleegster die eerste persoon wat met die virus besmet word buite Wes-Afrika. Dokters het gesê haar man is ook ʼn hoë risiko en hy is by die La Paz-Carlos III-hospitaal opgeneem. ʼn Man wat onlangs van oorsee af teruggekeer het Spanje toe, word ook gemonitor omdat hy vermoedelik met die virus besmet is.

Een van die verpleegsters se kollegas, wat diarree het, word ook gemonitor.

Madrid se aandelemark het dadelik gedaal nadat die nuus bekend gemaak is.

Die verpleegster het op 30 September begin siek voel nadat sy die twee priesters in die hospitaal se isolasie-eenheid behandel het. Sy is egter eers vyf dae later hospitaal toe, omdat sy met verlof was. Sy het koors gehad. Sy word nou in dieselfde eenheid behandel.

Gesondheidsbeamptes probeer bepaal met wie sy in kontak was, en monitor tans 30 persone, insluitend kollegas, vir ebola-simptome.

ʼn Kardioloog by die hospitaal het aan AFP gesê hulle kan nie verstaan hoe iemand wat ʼn dubbele beskermingspak en twee paar handskoene aangehad het, besmet kon raak nie. Sy het gesê Spanje kan nie ebola hanteer nie en het die besluit, om die twee sendelinge huis toe te bring, bevraagteken. Miguel Pajares (75) het ebola in Liberië opgedoen en is op 12 Augustus oorlede. Manuel Garcia Viejo (69) is in Sierra Leone besmet en is op 25 September oorlede.

Die Amerikaanse president Barack Obama het Maandag gewaarsku dat groot lande nie genoeg doen om die epidemie te takel nie.

Antonio Alemany, hoof van die primêre gesondheidsorg in Madrid, het gesê die verpleegster, wat nie kinders het nie, is in ʼn stabiele toestand, maar sy het nog steeds koors.

Die ebola-virus se simptome sluit koors, spierpyn, vomering, diarree en soms ook interne en eksterne bloeding in. Dit word versprei deur liggaamsvloeistowwe en die enigste manier om ʼn uitbreking te verhoed is om besmette persone in isolasie te plaas. Daar is geen entstof nie, maar een moontlike behandeling, genaamd ZMapp, word tans ondersoek.

Altesaam 3 439 persone uit 7 478 gevalle het reeds in Liberië, Guinee, Sierra Leone, Nigerië en Senegal gesterf, aldus die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se jongste statistiek.

Daar is pasiënte wat in Europa en Amerika behandel word, maar tot dusver is al die persone in Wes-Afrika met die virus besmet. ʼn Man van Liberië wat in Texas met ebola gediagnoseer is, ontvang eksperimentele medikasie genaamd Brincidofovir. Dit is die eerste keer dat hierdie medisyne gebruik word om die virus mee te beveg.

Dokters Sonder Grense het Maandag aangekondig ʼn werknemer van Noorweë wat in Sierra Leone met ebola besmet is, sal binnekort huis toe gestuur word. Nog een van hul werknemers, ʼn verpleegster van Frankryk, is glo gesond nadat sy huis toe gestuur is. Ouers van Boulogne-Billancourt in Parys weier egter om hul kinders skool toe te stuur omdat een van die leerlinge sopas van Guinee af teruggekeer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.