Ecuador-aardbewing: Dodetal staan reeds op 350

Aardbewing in Ecuador op 16 April 2016 (Foto: Skermskoot uit CNN-video)

Aardbewing in Ecuador op 16 April 2016 (Foto: Skermskoot uit CNN-video)

Die dodetal ná Saterdag se verwoestende aardbewing in Ecuador in Suid-Amerika staan reeds op 350 en dié getal sal na verwagting steeds styg.

Cesar Navas, minister van sekuriteit, het aan Teleamazonas-televisiestasie gesê die aantal slagoffers het gestyg tydens reddingspogings in die kusdorp, Pedernales.

Die Europese Unie het intussen €1 miljoen aangebied in noodverligting.

Owerhede en die Verenigde Nasies het die EU se kundigheid en bystand ingeroep onder andere in die vorm van nagligte en soek- en reddingspanne.

“Die EU is ten volle toegewy om die internasionale verligtingspoging te ondersteun om die duisende persone by te staan wat deur die aardbewing en Ecuador geraak is,” het Christos Stylianides, kommissaris vir humanitêre hulp, gesê.

Die EU verskaf ook satellietbeelde aan Ecuador om die skade te help bepaal.

Die aardbewing van 7.8 het die gebied Saterdagaand getref, ongeveer 170 km noordwes van die hoofstad Quito. Meer as 2 500 persone is beseer.

President Rafael Correa het dit as “die ergste katastrofe” beskryf wat die land in 67 jaar getref het.

Dosyne naskokke, verskeie sterker as 5.0, het die land nog ure ná die aardbewing geskud.

Lees alle vorige berigte oor Ecuador op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.