Ed Sheeran in hof oor trefferlied

Ed Sheeran verlaat die Rolls-gebou van die hooggeregshof in Londen. Hy word deur Sami Chokri en Ross O’Donoghue daarvan beskuldig dat hy dele van sy 2017-treffer, “Shape of You”, by hulle gekopieer het. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Die Britse musikant Ed Sheeran het Dinsdag in die hooggeregshof in Londen gesê hy “leen” nie idees van onbekende liedjieskrywers sonder om vir hulle krediet te gee nie.

Sheeran word deur twee liedjieskrywers daarvan beskuldig dat hy dele van sy 2017-treffer, “Shape of You”, gekopieer het. Sami Chokri en Ross O’Donoghue se regsverteenwoordiger voer aan dat Sheeran onbekende liedjieskrywers “anders hanteer” as bekende liedjieskrywers.

Sheeran ontken die bewerings en het in die hof gesê hy het al vantevore talle dele van “vele” onbekende liedjieskrywers se liedjies met toestemming gebruik.

“Shape of You” was in 2017 14 weke lank in die no. 1-posisie op treffersparades in Brittanje en was in dieselfde jaar die topverkoper-liedjie wêreldwyd.

Chokri en O’Donoghue beweer die liedjie het sterk ooreenkomste met ʼn liedjie getiteld “Oh Why”, wat in 2015 deur Chokri onder die naam Sami Switch uitgereik is.

Andrew Sutcliffe, hulle regsverteenwoordiger, het aangevoer Sheeran “leen idees en voeg dit in sy liedjies, en soms sal hy krediet daarvoor gee en soms nie”.

Sheeran ontken dat hy ander mense se werk gebruik sonder krediet en het benadruk dat hy gereeld krediet deel met onbekende kunstenaars, soos in die geval van liedjies soos “Shivers” en “Visiting Hours”.

Johnny McDaid, liedjieskrywer en lid van die groep Snow Patrol, kom by die City Court House se Rolls-gebou in Londen aan vir die verhoor oor die trefferlied “Shape of You”, wat hy help skryf het. Ed Sheeran, sanger van die liedjie, word daarvan beskuldig dat hy twee onbekende liedjieskrywers se liedjie gekopieer het. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Sheeran het “Shape of You” saam met Steve Mac, wie se regte naam Steven McCutcheon is, en Snow Patrol se Johnny McDaid geskryf. Albei van hulle was ook in die hof teenwoordig.

Sheeran het na afloop van “Shape of You” se uitreiking die skrywerspan agter die 1999-treffer “No Scrubs” deur TLC by dié liedjie se skrywerskrediete gevoeg nadat verskeie mense ooreenkomste tussen die twee snitte uitgewys het.

Sutcliffe het Maandag aan Sheeran gesê: “Die bewyse is oorweldigend dat jou skryfproses tydens die skryf van ‘Shape of You’ die leen van verskeie idees behels het”.

“Jy sê dit is oorweldigend. Ek stem nie daarmee saam nie,” het Sheeran geantwoord. “Indien ek ‘Oh Why’ gehoor en dit gebruik het, sou ek stappe gedoen het om toestemming te bekom. Ek het nog altyd probeer om heeltemal regverdig te wees met krediet vir enigiemand wat bydra tot ʼn liedjie wat ek skryf.

“Per geleentheid maak ek gebruik van ander liedjieskrywers se werk en wanneer ek dit doen, stel ek my span in kennis sodat die nodige stappe gedoen kan word om toestemming te kry. Ek is nog altyd so nougeset as moontlik en het selfs krediet gegee vir mense wat slegs ʼn element van die liedjie beïnvloed het. Dit is juis omdat ek ander liedjieskrywers regverdig wil hanteer.”

Sheeran het voorts getuig dat hy meestal in samewerking met ander liedjieskrywers skryf en dat dit soms moeilik is om te identifiseer presies watter deel ʼn individu geskryf het wanneer die liedjie voltooi is.

Hy het na McDaid verwys. “My en Johnny se skrywersvennootskap is baie soos ʼn potjie tennis. Hy sal iets sê en dan sal ek weer iets sê. Ons is nogal vinnig wanneer ons so heen en weer te werk gaan.”

Sheeran is ook herhaaldelik gevra of hy verantwoordelik is vir die koor van die 2015-treffer “Photograph”, waarop hy geantwoord het: “Ek kan eerlikwaar nie sê nie. Ons het die liedjie saam geskryf.”

Sami Chokri beskuldig die Britse treffermaker Ed Sheeran daarvan dat hy dele van sy liedjie “Oh why” geleen het vir die liedjie “Shape of You” sonder om krediet daarvoor te gee. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

“Photograph” is relevant aangesien dit die onderwerp van ʼn aparte kopieregeis deur Martin Harrington en Thomas Leonard was, wat Matt Cardle se 2011-enkelsnit “Amazing” geskryf het.

Die duo het uiteindelik ʼn gedeelte van “Photograph” se tantieme asook ʼn enkelbedrag van £4 miljoen (sowat R80 miljoen) in ʼn skikking buite die hof ontvang.

Sheeran sê hy het dié eis afgehandel omdat dit ʼn “oorlas” en “meer moeite as wat dit werd was” was. Op die vraag waarom hy so ʼn “aansienlike” bedrag sou betaal in plaas daarvan om die saak hof toe te vat, het hy gesê hy het so gemaak op advies van sy prokureurs.

Sutcliffe het gesê Sheeran het geweet van Chokri voordat “Shape of You” geskryf is, want dié kunstenaar het direk aan Sheeran op Twitter geskryf en die sanger het ook in 2011 op die verhoog na die kunstenaar verwys.

“Dit is onwaar,” het Sheeran geantwoord.

Chokri het ook om en by dieselfde tyd as Sheeran op die YouTube-kanaal SBTV verskyn, wat die stigter van die kanaal, Jamal Edwards, as sy “beste vriend” beskryf het. Dié musiekentrepreneur, wat verlede maand oorlede is, het egter nie liedjies soos “Oh Why” met hom gedeel nie.

“Ons sou oor sokker, sy ma en die teater gesels,” het Sheeran gesê.

Sheeran is ook gevra oor sy rol as talentsoeker vir sy eie platemaatskappy, Gingerbread Man Records. Hy het ontken dat hy bewus was van “Oh Why”, en gesê hy het pas vir Jamie Lawson ʼn kontrak gegee en het nie “iemand anders gesoek om mee saam te werk” nie.

Die hofsaak tussen Sheeran en Chokri en O’Donoghue sal na verwagting nog sowat drie weke duur.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bart-Man ·

In Suid Afrika gaan in hof toe ter wille van oorlewing. Oor see gaan hulle vir hof toe oor liedjies.

Marthinus W ·

George Harrison is hof toe gevat nadat sy liedjie “My Sweet Lord” uitgereik is. Die hof het bevind dat hy “onbewustelik” n riff uit “He’s so fine” geneem het. George het maar opgedok. Die twee skrywers van die liedjie “Without You” van die groep Badfinger, wat eers deur Harry Nilsson en later Mariah Carey bekend gemaak is, het selfmoord gepleeg weens bakleiery oor tantieme. John Fogerty, van Creedence Clearwater Revival-faam, het vir 10 jaar opgehou musiek maak, weens geskille oor tantieme, en omdat die eienaar van Fantasy Records, Saul Zaentz, hom kaal wou uittrek. Toe Fogerty in 1985 uiteindelik weer n album uitreik (Centerfield) het Zaentz hom hof toe gesleep, en aangedring op geld, want hy glo dat “The old man down the road” dieselfde klink as “Run through the jungle”. Die regter het gese Zaentz is gierig, en dis absurd, want Fogerty het altwee liedjies geskryf. Maar, omdat Fogerty se liedjie Zanz Kant Danz n klap na Saul was, moes hy die naam verander na Vanz Kant Danz.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.