Ed Sheeran wen ‘Shape of you’-saak

Ed Sheeran verlaat in Maart 2022 die Rolls-gebou van die hooggeregshof in Londen. Hy is deur Sami Chokri en Ross O’Donoghue daarvan beskuldig dat hy dele van sy 2017-treffer, “Shape of You”, by hulle gekopieer het. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Ed Sheeran het Woensdag in die hooggeregshof geseëvier in ʼn kopieregsaak oor sy 2017-treffer “Shape of you”.

Regter Antony Zacaroli het beslis dat die sanger en liedjieskrywer nie plagiaat gepleeg het deur die liedjie “Oh Why”, wat in 2015 deur die kunstenaar Sami Chokri uitgereik is, te gebruik nie.

Chokri, wat onder die naam Sami Switch optree, het beweer die Oh I-gedeelte in Sheeran se liedjie was “beduidend soortgelyk” aan die “Oh why”-refrein in sy eie liedjie.

Sheeran het gesê hy kan nie onthou dat hy ooit “Oh Why” gehoor het voor die aanvang van die hofsaak nie.

“Shape of you” was Brittanje se topverkoper vir 2017 en is die liedjie wat al die meeste op Spotify gestroom is.

Zacaroli het beslis dat Sheeran “nie met opset of bewustelik Chokri se liedjie gekopieer het nie”.

Hy het erken dat daar “ooreenkomste tussen die twee frases” in “Shape of you” en “Oh why” is, maar het gesê “sulke ooreenkomste is net die vertrekpunt vir ʼn moontlike oortreding” van kopiereg.

Nadat hy die musikale elemente bestudeer het, het hy gesê daar is “verskille tussen die relevante gedeeltes” van die liedjie, wat “oortuigende bewyse lewer dat die Oh I-frase in Sheeran se liedjie gespruit het uit ander bronne eerder as uit ‘Oh Why’”.

Sami Chokri (agter) beskuldig die Britse treffermaker Ed Sheeran daarvan dat hy dele van sy liedjie “Oh why” geleen het vir die liedjie “Shape of You” sonder om krediet daarvoor te gee. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Hy het bygevoeg dat daar slegs “spekulatiewe gronde” is vir die verdediging se saak dat Sheeran wel Chokri se liedjie gehoor het voordat hy “Shape of you” geskryf het. “Ek bevind dat hy dit inderwaarheid nie gehoor het nie,” het Zacaroli gesê.

Sheeran het “Shape of you” saam met twee ander skrywers, Snow Patrol se Johnny McDaid en vervaardiger Steven McCutcheon, geskryf. Albei dié skrywers het ook ontken dat hulle voorheen “Oh Why” gehoor het.

Die regsgeding het reeds in 2018 begin en ʼn 11 dag lange verhoor het verlede maand in Londen, Engeland, begin.

Sheeran het voorheen in die hoë hof gesê hy “leen” nie idees van onbekende liedjieskrywers sonder om vir hulle krediet te gee nie. Hy het al die bewerings teen hom ontken en het in die hof gesê hy het al vantevore talle dele van “vele” onbekende liedjieskrywers se liedjies met toestemming gebruik.

Andrew Sutcliffe, Chokri en sy medeskrywer Ross O’Donoghue se regsverteenwoordiger, het aangevoer Sheeran “leen idees en voeg dit in sy liedjies, en soms sal hy krediet daarvoor gee en soms nie”.

Forensiese musikoloë is deur albei partye geroep om te getuig en het kontrasterende bevindings gehad. Een het gesê die liedjies was “duidelik verskillend” terwyl die ander gesê het daar is “beduidende ooreenkomste”.

Ian Mill, Sheeran se regsverteenwoordiger, het gesê die saak is “diep traumatiserend” vir die Britse popster en sy medeskrywers, terwyl Chokri die verhoor in die hoë hof as “die aakligste paar dae van my lewe” bestempel het.

Die hof het gehoor “Shape of you” bring Sheeran, McDaid en McCutcheon sowat £5 miljoen (sowat R96 miljoen) per jaar in die sak, ten spyte van die bykans 10% van betalings wat gevries is weens die dispuut.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nierkie ·

Sami Switch probeer net ‘n gedeelte van die poeding kry. Daar is ooreenkomste tussen die liedjies maar plagiaat is dit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.