Een dood, 21 beseer ná gaslyn ontplof

Brandbestryders op die terrein waar die ontploffing naby Baumgarten an der March in Oostenryk plaasgevind het (12 Desember 2017). Foto: AP Photo/Ronald Zak

Een mens is dood en nog 21 beseer nadat ʼn ontploffing en brand Dinsdag deur die middelpunt van Oostenryk se hoofgaspypleiding geruk het.

Die voorval het daartoe gelei dat Italië ʼn noodtoestand afgekondig het nadat die gasvloei vanaf die strategiese terrein vir die grootste deel van die dag afgesny is. Die Baumgarten-terrein in die ooste van Oostenryk, naby Slowakye, is ʼn groot streeksoordragnodus waar natuurlike gas van tot Rusland gebring en gepomp word na buurlande waaronder Duitsland en Italië, Baumgarten se grootste ontvanger.

Die nuus van die ontploffing het gaspryse in Europa die hoogte in laat skiet te midde van vrese dat die ontploffing ʼn beperking op gas sal meebring terwyl winter pas in die gebied aangebreek het. Gas Connect Austria, die terrein se operateur, het egter Dinsdag gesê die gasvloei sou teen middernag plaaslike tyd weer aan die gang wees.

Beeldmateriaal van die ontploffing wat deur verskeie media gedeel is, het getoon hoe ʼn kolom vuur vanaf ʼn plat landskap die lug in skiet. ʼn Groot gebied rondom die terrein is afgesper en 250 brandbestryders is na die toneel ontbied. Gas Connect Austria het later gesê die brand was oor ʼn gebied van 100 m by 100 m op ʼn terrein wat oor 17 ha strek.

Polisiebeamptes op die toneel waar die ontploffing naby Baumgarten an der March in Oostenryk plaasgevind het (12 Desember 2017). Foto: AP Photo/Ronald Zak

Van die 21 mense wat beseer is, is een in ʼn ernstige toestand. Onder die beseerdes is werknemers van kontrakteurs van ses ander lande, buiten Oostenryk.

Die brand is beperk tot kleiner brande voordat dit teen Dinsdagmiddag heeltemal geblus is. ʼn Ondersoek na die oorsaak van die ontploffing is van stapel gestuur, maar die polisie en Gas Connect Austria glo ʼn tegniese fout is te blameer.

Italië se bedryfsminister het gesê dit was nodig om ʼn noodtoestand aan te kondig aangesien die land ʼn “ernstige” energievoorsieningsprobleem het. ʼn Noodtoestand sal die land die reg gee om ʼn reeks buitengewone maatreëls aan te wend soos om steenkool- en oliekragstasies volstoom te gebruik.

Die brand het kommer in Europa laat toeneem oor beperkte gasvoorraad ná verskeie kernreaktor- en gasinfrastruktuur-onderbrekings en die sluiting van die Forties North Sea-pyplyn gedurende ʼn tydperk van hoë aanvraag weens yskoue temperature.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.