Een dood tydens oproer by Zimbabwe-tronk

Foto:  Nyarai Mudimu/IPS

Foto: Nyarai Mudimu/IPS

Minstens een gevangene is dood en 11 persone, agt gevangenes en drie bewaarders, is beseer tydens ʼn drie uur lange oproer by ʼn maksimum-sekuriteitgevangenis in Harare, Zimbabwe.

Die Zimbabwe-uitsaaikorporasie (ZBC) het Vrydagaand berig bewaarders moes van vuurwapens gebruik maak om die situasie by die Ckikurubi-gevangenis onder beheer te bring.

Die Herald-koerant berig nagenoeg 900 gevangenes het aan die oproer deelgeneem wat begin het as ʼn betoging vir beter kos. Hulle het glo nie van die groente gehou wat saam met die pap bedien is nie. Volgens die koerant ly “ʼn groot aantal” gevangenes aan skeurbuik weens ʼn slegte dieet. Van die gevangenes het glo twee weke gelede aan ʼn eetstaking deelgeneem.

Die gevangenes het glo komberse aan die brand gesteek en vensterrame beskadig. Drie tronkbewaarders is glo ook beseer toe hulle met asbes gegooi is.

Volgens die Herald is een van die gevangenes tydens die stormloop dood. Elizabeth Banda-Karinda, woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het bevestig hy is nie geskiet nie.

Agt van die gevangenes is glo ernstig beseer en word in die hospitaal behandel. Die res van die persone het geringe beserings opgedoen.

Banda-Karinda het bevestig niemand het ontsnap nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.