Een sterf tydens reddingspoging by oorstroomde grot

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

ʼn Voormalige lid van die Thai-vloot het gesterf in ʼn reddingspoging om 12 jong sokkerspelers en hul afrigter by te staan wat deur vloedwater in die Tham Luang Nang Non-grot in die Chiang Rai-provinsie vasgekeer is.

Arpakorn Yookongkaew, bevelvoerder van die vloot, het Vrydagoggend tydens ʼn mediakonferensie bevestig die oorledene het as vrywilliger met die reddingspoging gehelp. Hy het gesterf gedurende ʼn operasie deur die nag om suurstofhouers in die grot te plaas.

Volgens The Guardian is die oorledene as Samarn Kunan (38) geïdentifiseer. Die nuusinstansie berig Kunan het suurstoftenks in die grot geplaas ter voorbereiding van ʼn operasie om die seuns uit die grot te bring toe suurstoftekort hóm getref het.

Sy liggaam is reeds na die Suvarnabhumi-lughawe in Bangkok geneem van waar dit na sy tuisdorp, Roi Et, gestuur sal word.

Dit is nie duidelik hoe Kunan se dood verdere reddingspogings sal beïnvloed nie, maar dit het weereens die kollig geplaas op hoe gevaarlik die poging werklik is. Thai-owerhede jaag tans om water uit die oorstroomde grot te pomp voordat swaar reën weer op die gebied toesak.

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige sokkerafrigter is sedert 23 Junie in die grot vasgekeer. Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel.

Die seuns is tans veilig omdat hulle op ʼn hoër en droë deel diep binne die grot skuiling gevind het. Dié deel is egter kilometers ver van die ingang van die grot en kon slegs deur ervare spesialisduikers met ekstra suurstofvoorraad bereik word.

Owerhede het aanvanklik gesê die seuns verkeer in goeie gesondheid, maar het Donderdag bevestig dat sommige lede van die groep se gesondheid nou agteruitgaan. Twee seuns en die afrigter is met wanvoeding en uitputting gediagnoseer. Dit bemoeilik die moontlikheid dat die seuns self uit die grot uit kan duik, aangesien hulle sterk sal moet wees om die ingewikkelde vyf uur lange duiksessie te oorleef.

Narongsak Osotthanakor, die goewerneur van Chiang Rai, het gesê hulle oorweeg dit om die seuns in verskillende fases uit te bring en dié wat tans sterk genoeg is eerste te help. Die seuns het reeds begin oefen om duikmaskers te dra en onder water asem te haal. Wanneer die eerste duikpoging egter sal gebeur, is nog nie duidelik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

White Rhino ·

Ai dis jammer.
Hoop die spannetjie kom ongedeerd uit die grot.

Wonder ·

Dis sleg wat hierdie span oorgekom het. Ek kan steeds nie help om te wonder hoekom die afrigter hulle die grot ingevat het ten spyte van waarskuwing borde nie.

GM ·

Dit is so hartseer dat die persoon gesterf het terwyl hy ander wou help. Wat dit erger maak is dat die afrigter waarskuwings geïgnoreer het. Ek hoop hul almal kan binnekort gehelp word! Ek glo dis alreeds vreeslik traumaties vir hulle, en so ook vir hul ouers/geliefdes, so hopelik is daar nie nog sterftes nie. Ek haal my hoed af vir al daai reddingswerkers (en hul families), ek kry omtrent ‘n angsaanval as ek net na daardie water in die grot kyk.

Johan ·

Sterkte aan die besluitnemers. Vir my as leek lyk die duik-opsie net eenvoudig te riskant. Vyf ure onder water is laaaank, veral as jy nie al geduik het nie. Paniek is ‘n moontlikheid.

Maar ek besef die alternatiewe is seker ook nie juis baie of meer positief nie. Veral met nog reen wat moet val nie. Sterkte aan almal daar.

Sterkte ·

Baie tragies, maar ek stem saam, hierdie kinders is nie ervare duikers nie, almal het nou oorleef, mens kan nie hulle lewens nou in gevaar stel nie. Hulle is ondervoed en uitgeput soos dit is, hoe wil hulle ‘n 4 km duik aanpak as hulle nog nooit voorheen geduik het nie. Vir my ook te riskant .. ek weet net nie wat se ander opsies daar is nie. AS ‘n ERVARE duiker aan ‘n suurstoftekort doodgaan, kan ek nie imagine wat met hierdie arme onervare kinders kan gebeur nie. STERKTE met al hulle planne, dink nie dit is ‘n maklike besluit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.