Een vas ná ontploffing in New York

Polisiebeamptes op die toneel waar die ontploffing in New York plaasgevind het (11 Desember 2017). Foto: ANA

Een verdagte is glo in hegtenis geneem ná ʼn ontploffing Maandag naby een van die besigste pendelaarspunte in New York City in die VSA.

Reuters berig die ontploffing het Maandagoggend tydens spitstyd in een van die ondergrondse gange by Port Authority op die hoek van 42ste Straat en 8ste Laan plaasgevind. Twee ondergrondse treinstasies word op hierdie plek deur ʼn tonnel verbind.

Volgens nuusberigte word daar vermoed dat dit ʼn pypbom is wat ontplof het. Die New York-polisiedepartement het op Twitter bevestig dat ʼn ontploffing van onbekende oorsprong plaasgevind het en dat sommige ondergrondse treinroetes ontruim is. ʼn Busstasie is glo ook ontruim.

Volgens die New York Times het die ontploffing in ʼn gang tussen die twee ondergrondse treinstasies plaasgevind.

Dit is nog nie duidelik hoeveel mense in die voorval beseer is nie, aangesien verskillende mediaberigte hieroor teenstrydig is. ʼn Ooggetuie het aan CNN gesê hy het twee ontploffings gehoor terwyl hy naby die toneel uit ʼn bus geklim het.

Die televisiekanaal WPIX het berig ʼn man “met ʼn moontlike tweede ploftoestel” is in die treintonnel aangekeer. Volgens CNN is die verdagte tydens die ontploffing beseer.

Die New York Times het gesê die ploftoestel was glo aan die verdagte se lyf vasgebind. Volgens die nuusagentskap is die ontploffing op beeldmateriaal van veiligheidskameras vasgevang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.