Een worsbroodjie = halfuur korter lewe

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Een worsbroodjie kan na bewering 36 minute van ’n mens se lewe kos, terwyl een porsie neute glo 26 minute tot ’n persoon se lewensduur kan bydra.

Só toon onlangse navorsing deur die Universiteit van Michigan in die VSA.

Dié navorsingsverslag wat vandeesmaand in die vaktydskrif Nature Food gepubliseer is, is wel geskoei op ’n Amerikaanse dieet.

Navorsers het 5 853 kossoorte in dié dieet ondersoek en die uitwerking daarvan in minute van ʼn gesonde mens se lewe gemeet. Daar is bevind dat die kossoorte wat as deel van die navorsing bestudeer is, in sommige gevalle die mens se lewe met 74 minute kan verkort of so veel as 80 minute kan verleng.

Drankies met ’n hoë suikerinhoud, worsbroodjies, hamburgers en ontbyttoebroodjies steel glo die meeste minute van ʼn gesonde lewe, terwyl vrugte sowel as nie-styselagtige en gemengde groente en gekookte graan minute op die lewensklok byvoeg.

Luidens die navorsing kan kos soos gesoute grondboontjies, gebakte salm en rys met boontjies tien tot 15 minute by ’n mens se lewensduur voeg. Dít terwyl die inname van een porsie (85g) gebraaide hoendervlerkies soveel as 3,3 minute van ’n mens se lewe kan steel, weens die natrium en skadelike transvetsure van dié gereg.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

’n Enkele worsbroodjie verkort ʼn mens se lewe met meer as ’n halfuur, waarskynlik weens die nadelige uitwerking van verwerkte vleis op die menslike liggaam.

Olivier Jolliet, professor in omgewingsgesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Michigan en senior outeur van die verslag, sê die 61 g verwerkte vleis in ’n worsbroodjie lei eintlik tot die verlies van 27 minute se lewenstyd.

Die somtotaal kom egter op 36 minute te staan wanneer bestanddele soos natrium en transvetsure in berekening gebring word.

“Interessant, ek sal miskien meer neute moet eet om terug te gaan in die tyd,” het die wêreldrekordhouer en mededingende eter Joey Chestnut intussen in reaksie op die navorsingsverslag getwiet. Chestnut kan soveel as 76 worsbroodjies in tien minute verorber.

Die mededingende eter Joey Chestnut kan soveel as 76 worsbroodjies in tien minute verorber. (Foto: Joey Chestnut/Facebook)

Volgens die verslag se berekenings het Chestnut een jaar en 15 minute van sy lewe verloor toe hy na raming 19 200 worsbroodjies in die bestek van 16 jaar geëet het.

Jolliet sê egter hy sou nie te veel bekommerd wees oor die eet van ʼn worsbroodjie of om die wiskunde te doen elke keer wanneer hy iets eet nie. “Ons het eintlik net probeer wys hoe jy jou leefstyl en die omgewing kan verbeter sonder om noodwendig ’n vegan te wees.”

Die navorsing toon dat ʼn mens sy of haar koolstofvoetspoor met ʼn derde kan verminder deur 10% van die daaglikse kalorie-inname van beesvleis en verwerkte vleis met ʼn mengsel van vrugte, groente, neute, peulgewasse en geselekteerde seekos te vervang. Só kan ʼn mens ook daagliks 48 minute se lewenstyd wen.

“Dit is ʼn nuttige maatstaf wat jou kan help om meer ingeligte keuses te maak en dit makliker maak om klein veranderings aan jou dieet aan te bring,” sê Jolliet.

Klik hier vir die volledige navorsingsverslag.

Bronne: Universiteit van Michigan, The New York Post, CNN, USA Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Phillip ·

gee reg tig nie om nie so lank ek lekker geeet het . en my worsbroeikie riul ek vir niks my hawaien burger nog minder

Biker mice ·

Ek stem Phillip, as die navorsing waar was, was ek al voor my geboorte dood

ONTPS ·

Twak, bog en snert! Net Een bepaal hoe lank jy lewe, en dis nie worsbroodjies en koeldrank nie…

RS ·

Maar niemand kla nie oor die tiepe snert nuus wat versprei word nie. Sodra waarhede uit gelig word, maak almal dit dood.

VaalDonkie ·

Ja maar ek drink ook Rooibos tee wat vir my 30 minute langer gee per koppie. So ek is nogsteeds 4 minute voor.

Chris dupreez ·

En as jy nog n paar neute saam eet , raak jy nog verder voor

Windhond ·

Ek is in elk geval reeds op geleende tyd agv braaivleis eet, so dit sal my geensins benadeel nie

Elinette ·

Ou Eeh-Hoh, jou boerie-worsrol is ook maar verwerkte vleis.

Adelaide ·

Jammer geld word gemors op sulke navorsingstudies. Eerder belê in navorsing insake kanker, covid, ens.

Pierre ·

Wat ook al, nou regtig die grootste klomp gemors wat ek nog gelees het ek sal ook nooit weer daai minuut terug kry nie.

Carina ·

Gelukkig eet nie almal viennas op hul worsbroodjies nie, maar regte boerewors, soos dit hoort. Ek kan nie onthou watter jaar laas ek verwerkte vleis produkte gekoop het nie. Vandat ek in ‘n fabriek gesien het hoe dit gemaak word en wat daar in gaan, sit ek nie my mond daaraan nie.

Wielspore ·

Dankie vir die nuttelose inligting vanaf Universiteit van Michigan in die VSA. Ongelukkig het ek nie telling gehou van al die worsbroodjies wat ek nou al vir 57 jaar verorber het om van my lewensduur af te trek. In teendeel sien ek eerder uit na al die vakansies en tyd saam met die familie en vriende. Hierdie is meer positief in my lewe.
Hoop ek het nie nou op iemand se worsbroodjie getrap.

Petrie ·

Dis nou loshande die grootste klomp twak. Dis verseker Amerikaanse wors en nie Suid Afrikaanse boerewors nie.
Neute kan jou gouer doodmaak as jy allergies daarvoor is.
Wie dink sulke nonsens uit?

Atta ·

Om ongesonde kos te vermy mag moontlik jou lewe met 300 minute verleng, maar dit gaan jou beslis nie van paranoia genees nie.

Jessey ·

Van nou af identifiseer ek as ‘n eekhoring. Ek gaan leef tot 180. Bring all the Nuts. Ai toggie, wat gaan hulle nog probeer navors. Of tandestokkies jou “enamel” op jou tande afkrap, of is daai studie al gedoen?

Biker mice ·

Ek stem Phillip, as die navorsing waar was, was ek al voor my geboorte dood

Pietertjie ·

Jeeg, ek het seker al ‘n honderd worsbroodjies in my lewe geëet. As ek nou net kan uitvind wanneer ek gaan sterf, dan moet ek onthou om 50 uur af te trek.

Dis nog ver van 1 April af.

Vrijburger ·

En so stadig-stadig aan word ons ook blootgestel aan die klimaatsverandering ‘wokeness’ onder die dekmantel van ‘ter wille van jou gesondheid’.

En rerig, moet ek waarde heg aan die tipe navorsing wat uit ‘n universiteit met ‘n agenda soos University of Michigan kom? (CNN?!)

KB ·

Fantasties!
Pleks gebruik die wêreld daardie navorsers iewers anders EFFEKTIEF.
Sal ons by virologie begin?

Jackie ·

Rekenkundig volgens hierdie navorsing moes ek reeds in 1937 gesterf het. Ek is in 1947 gebore

Anton J ·

Lekker bly maar lekker. Nou net klaar my eie tuisgemaakte hamburger patties gemaak vir ‘n partytjie vanmiddag. So daar is seker 4 ure se lewe nou korter. Ek merk dit gou af op my kalender sodat ek die dag kan sien nader kom. Wat ‘n klomp nonsens, Leef net verantwoordelik en geniet jou geleenthede saam met vriende en familie.

Frank John ·

Wil net op aarde bly solank ek vir my God nog iets kan doen tot bevordering van Sy Koninkryk, dan wil ek na Jesus toe gaan in die paradys en saam Hom wees vir ewig. Van die boom van die lewe eet, ook van die verborge manna eet. Wil Hom aanbid en dankbaar wees dat Hy my gered het. Sodra ek bereik het wat my God vir my beplan het, wil ek huistoe. Langer leef- korter leef, nie vir my belangrik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.