Eend lei polisie na bejaarde se liggaam

Angela Wamsley (46) en Mark Alan Barnes (50) [Foto: Twitter]

’n Troetel-eend het die polisie na ʼn bejaarde vrou van Noord-Carolina in die VSA se oorskot gelei nadat dié vrou in Desember 2020 as vermis aangemeld is.

Die oorskot was dié van Nellie Sullivan, wat vandag 93 jaar oud sou wees. Sy het glo dementia gehad en is na bewering deur haar kleindogter en dié se man vermoor.

Sky News berig ʼn troetel-eend van ʼn gesin in Candler, Noord-Carolina, het op 14 April vanjaar onder ’n sleepwa ingehardloop, waarna Sullivan se oorskot gevind is. Die oorskot was in ʼn houer.

“As ek vir daardie eend ʼn medalje kon gee, sou ek,” het sers. Mark Walker, polisiewoordvoerder, gesê.

NBC News berig die polisie glo dat Sullivan op ʼn ander plek vermoor is voordat haar oorskot na dié spesifieke perseel geneem is.

Die amptelike oorsaak van Sullivan se dood sal deur die mediese ondersoeker se kantoor bekend gemaak word sodra hulle hul onafhanklike nadoodse ondersoek voltooi het.

Angela Wamsley (46) en Mark Alan Barnes (50) is Donderdag van eerstegraadse moord aangekla in verband met die dood van Sullivan. Sullivan is Wamsley se ouma.

Ná Sullivan se verdwyning het Wamsley en Barnes voortgegaan om haar maatskaplike-sekerheid- en aftreevoordele in te vorder asook haar voorskrifmedisyne.

Die verdagtes word sedert Sullivan se verdwyning in Desember 2020 ondersoek, het Aaron Sarver, woordvoerder van die sheriff se kantoor in Buncombe County, gesê.

Die polisie sê hulle het nie ’n presiese datum waarop Sullivan vermoor is nie, maar glo sy is al geruime tyd dood.

Die verdagtes sal na verwagting op 13 Mei in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Ek het n paar jaar gelede sowat 10 eende gehad, baie intelligent.

piet ·

Dis nou wat die Amerikaners “white trailer trash” sal noem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.