Eensame beer in Oekraïne gered

Die beer is in die Donetsk-streek agtergelaat. (Foto: Natalia Popova/Four Paws)

ʼn Bruinbeer wat in die oorloggeteisterde Donetsk-streek van Oekraïne in nood verkeer het, is Donderdag gered en na veiligheid geneem.

Oekraïense soldate het slegs dae gelede op die verhongerde mannetjiesbeer afgekom wat vermoedelik onwettig in private besit was. Hulle het hom gevoer totdat die internasionale dierewelsynsorganisasie Four Paws kon ingryp.

Elize Parker, woordvoerder van Four Paws, sê die soldate se kosvoorrade het yl geraak nadat hulle die beer dae lank gevoer het.

“Hulle het na ʼn plaaslike dierewelsynsorganisasie, Wild Animal Rescue, uitgereik waarna Four Paws ook ontbied is.”

Die ondervoede dier is in ʼn omheinde gebied wat gedeeltelik vernietig is aangetref. Dele van sy skuiling was ook gebombardeer. Die Donetsk-streek word gedeeltelik deur Russiese magte beheer en talle inwoners het reeds in Julie uit die streek gevlug nadat skade aan infrastruktuur dit byna onleefbaar gemaak het – veral met die oog op die komende winterseisoen.

ʼn Noodreddingsoperasie is Donderdag vir die beer van stapel gestuur en die span kon daarin slaag om die uitgeputte dier uit die skuiling te hys. Hy is na ʼn toevlugsoord in Domazhyr aan die weste van Oekraïne geneem om te herstel.

“Ons is baie bly dat ons die beer op die laaste oomblik kon inneem want hy was reeds baie swak,” sê Barbara van Genne, van Wild Animal Rescue.

“Die span by die toevlugsoord is besig om die beer se welstand te ondersoek en langtermynoplossings vir sy toekoms te vind. Ons moet egter vinnig besluit of die beer by die toevlugsoord sal kan bly omdat die winterslaapseisoen reeds aangebreek het.

“Ongeag die uitkoms van sy mediese ondersoek sal ons seker maak dat die beer voortaan ʼn spesie-geskikte lewe kan lei, hetsy in ons sorg of by ʼn soortgelyke geskikte toevlugsoord.”

Hoewel dié beer nou veilig is, sê Parker die onwettige besit van wilde diere in die land is steeds ʼn groot probleem.

“Te midde van die oorlog is Four Paws daartoe verbind om alles moontlik te doen om die onwettige besit van wilde diere in Oekraïne te takel.”

Die soldate wat die beer gehelp red het. (Foto: Natalia Popova/Four Paws)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Althes ·

Dis wonderlik dat die soldate hul kos gedeel het met die honger dier. Hulle het hart van goud. Ek wens Putin wil die oorlog stop en Oekranië hul demokrasie gun.
Mense moet al in opstand kom voordat een persoon te magtig word of ñ diktator in wording.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.