Eerste besoek aan SA vir Belgiese koninklikes

Prins Emmanuel, prinses Elisabeth, prins Gabriel en prinses Eléonore saam met koning Philippe en koningin Mathilde. (Foto: Belgiann Royal Palace/Instagram)

President Cyril Ramaphosa gaan vandeesweek gasheer vir België se koning Philippe en sy vrou, koningin Mathilde, speel tydens dié koninklike egpaar se eerste amptelike staatsbesoek aan Suid-Afrika.

Dié besoek – die eerste aan Suid-Afrika deur die Belgiese monargie – is volgens die Suid-Afrikaanse presidensie “’n demonstrasie van die sterk bilaterale betrekkinge wat tussen die twee lande bestaan”.

Die koninklike egpaar sal van 22 tot 27 Maart verskeie amptelike geleenthede saam met Ramaphosa en regeringslede in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad bywoon waar hulle met akademici, sakelui en gemeenskapsorganisasies sal ontmoet.

Dit blyk dat toerisme, handel, buitelandse beleggings en hernubare energie die hoof gesprekpunte tydens dié besoek gaan wees. Daar word verwag dat die koninklikes ook gewilde Suid-Afrikaanse besienswaardighede sal besoek.

Die egpaar sal na Johannesburg reis op Air Belgium, wat in September verlede jaar sy eerste vlug na Suid-Afrika in onderneem het.

Die koning en koningin saam met koningin Elizabeth II. (Foto: Belgian Royal Palace/Instagram)

Volgens Niky Terzakis, uitvoerende hoof van Air Belgium, is dié lugredery verheug om die koninklike familie op hulle vlug na Suid-Afrika te verwelkom.

“Ons direkte vlugte tussen Brussel en Johannesburg bied nie net gerief vir reisigers nie, maar ook waardevolle ekonomiese geleenthede. Die teenwoordigheid van die Belgiese koninklike familie beklemtoon die wedersydse respek en bewondering tussen dié twee nasies. Ons glo hierdie besoek is ‘n belangrike mylpaal vir Air Belgium, en ons sien uit na die vele geleenthede wat daaruit sal vloei,” het Terzakis oor dié geleentheid gesê.

Vyf kitsfeite oor die Belgiese-koningshuis wat jy dalk nie geweet het nie

  1. Die Belgiese en Britse koninklikes is verlangse familie. Die Belgiese-koningshuis dra dieselfde naam as wat die Britse-koningshuis voor 1917 gehad het, naamlik Sakse-Coburg-Gotha. Koningin Victoria se kleinseun, koning George V, het in 1917 met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, waarin Engeland en Duitsland vyande was, sy familie se van na Windsor verander.
  2. Danksy die Britse en Belgiese koninklikes se verbintenis, is koning Philippe dus ongeveer die 1080ste Britse troonopvolger.
  3. België het in 1991 sy wetgewing verander sodat die oudste kind van die regerende monarg die troon kan bestyg, ongeag sy of haar geslag. Dít beteken dat koning Philippe se dogter, prinses Elisabeth (21), eendag die eerste regerende koningin van België sal word.
  4. Koning Philippe (62) is naas Nederland se koning Willem-Alexander (55) die tweede jongste regerende monarg.
  5. Koning Albert, koning Phillippe se pa, het in 1968 ʼn buite-egtelike kind, Delphine Boël, saam met sy minnares van 18 jaar, barones Sybille de Selys Longchamps, gehad. Die voormalige koning het in 2020 ná ‘n jarelange regstryd erken dat dié 55-jarige kunstenaar sy kind is. Sy heet nou amptelik prinses Delphine van Sakse-Coburg-Gotha.

Bykomende bronne: Hello, Weet, Brussels Times.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.